Drie mense is dood en minstens 63 beseer in ‘n gru-botsing tussen ‘n bus en twee vragmotors op die N1 tussen Laingsburg en Prince Albert Saterdagoggend (31 Mei).
Die ongeluk het kort na 06:00 plaasgevind. Die volgelaaide bus was vermoedelik na Kaapstad onderweg.
Volgens Kurt Maske, ‘n paramedikus by ER24, was verkeer op die N1 vir etlike ure ontwrig.
“Wrakstukke was regoor die hoofweg versprei. Verkeersdienste moes gevolglik ‘n stop-en-ry-stelsel implementeer.
“Drie persone is deur paramedici op die toneel dood verklaar,” het Maske by navraag gesê.
Volgens Maske is van die beseerdes per helikopter vir verdere mediese behandeling van die toneel af vervoer.
Hy sê die beseerdes is na hospitale in Laingsburg, George asook Bloemfontein vervoer.
Die metro se plaaslike ambulansdienste, ER24 en Titanium-ambulansdienste was op die toneel.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Lt. Kol. Malcolm Pojie, het gesê dat Laingsburg SAPS ‘n saak van strafbare manslag ondersoek na die noodlottige ongeluk tussen ‘n passasiersbus met ongeveer 64 passasiers en twee vragmotors op die N1 tussen Laingsburg en Leeu-Gamka.
“Volgens voorlopige inligting was die bus op pad na Kaapstad terwyl die vragmotors in die teenoorgestelde rigting gery het.
“Drie volwasse mans op die bus is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar en verskeie beserings is opgedoen deur die res van die passasiers wat na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer is.”
Pojie het gesê dat die twee vragmotorbestuurders ongedeerd is en die oorsaak van die ongeluk moet nog vasgestel word.
Die pad is intussen volkome opgeruim en alle bane weer oopgestel vir verkeer.