'n Kleurvolle prentjie met 'n rok, musieknote en die Suid-Afrikaanse vlag.
Prent vir illustrasie doeleindes. Credit: AI Generated

“Pamperlang” is my gunsteling Afrikaanse woord.

Dit is ‘n opbeurende woord wat ‘n mens se gemoed lig net by die aanhoor daarvan.

Dis die betekenis daarvan wat mens laat glimlag. Dit hou die belofte in van ‘n bederf wat al lank uitstaande is.

Om gepamperlang te word kan vir verskillende mense iets anders beteken.

Maar dat dit aangenaam sal wees, is beslis.

Ons wonderlike taal vier vanjaar haar eeufees jaar.

Dis te wonderlik om te weet ons taal het die toets van die tye deurstaan.

Dis al talle kere bedreig.

Daar is gedurig aanslae op die taal by skole en in die werkplek.

Maar sy lig telkens haar kop en staan trots. Haar mense hou haar arms hoog.

Daar word gesing, gebid, gepraat, geskryf en gelag in Afrikaans.

Sy het darem al die borstrok verruil vir ‘n gemakliker, fleuriger tabberd – gemakliker en meer kleurvol. Sy bly ons Moedertaal wat al van ver af kom.

Sy is lewendig, sy groei voortdurend. Op elke vakgebied.

Sy bly in die mode met haar nuwe rok. Selfs met die tegnologie – van toepassings tot stemposse.

Dis my passie om Afrikaans so suiwer as moontlik te praat.

Die grootste eer het my te beurt geval toe ek as Afrikoon vereer is deur die ATKV vir my bydrae tot die bevordering van Afrikaans in die media.

Dit was toe Afrikaans haar 75ste verjaarsdag gevier het.

As radio- en TV-verslaggewer vir die nasionale uitsaaier, het ek uit my pad gegaan om mense met wie ek onderhoude gedoen het, aan te moedig om ook Afrikaans te praat – al moes ek bietjie help.

Ek het al hier vertel van Oom Raymond Mhlaba, oud-vryheidsvegter en eerste premier van die Oos-Kaap, wat altyd gesê het ek stof sy Afrikaans af.

Ahmed Kathrada, politieke aktivis, het my in ‘n nota bedank vir die brug wat ek met hom in Afrikaans gebou het.

Hy het gesê niemand anders het met hom Afrikaans probeer praat nie – hoewel hy dit vlot kon praat.

Ek is gewoonlik inskiklik as ‘n persoon nie kán Afrikaans praat nie – dan praat ek Engels.

Maar aai, as dit by geldsake kom…dan wag ek maar tot iemand in my Moedertaal kan help.

In die korporatiewe milieu moet mens ter wille van duidelike kommunikasie en welwillendheid, soms agteroor buig om bv. Engels te praat.

Wat is dan lekkerder as om tuis na jou wonderskone taal op radio en televisie te luister en kyk, ‘n Afrikaanse tydskrif te lees en musiek te hoor, of in kleurvolle, parmantigheid te skaterlag vir ‘n grappie wat net in Afrikaans werk!

Ek het ‘n paar mense gevra na hulle gunsteling Afrikaanse woorde: liewenheersbesie, japtrap, meevallertjie, klopdisselboom, desnieteenstaande, kniehalter, grondboontjiebotter, pantoffels, waaghals, woefkardoes, viool, woema, koester, kriewel, pierewaaier, skobbejak, skarminkel, kapokhaantjie, skorriemorrie, iesegrimmig, verruklik en genugtig.

My hart bokspring om te lees dat die toentertydse blou haas strokieskarakter, Bollie, weer sy verskyning in boekvorm gaan maak . My wens is dat my kinders en kleinkinders my sal onthou vir die boeke wat ek vir hulle gelees het, en dat ek lief is vir Afrikaans.

You need to be Logged In to leave a comment.