Verskeie toergroepe vat nou die pad Namakwaland toe om die blommeprag daar te bewonder en geniet. Maar in Jeffreysbaai en elders in die Kouga gebied het ons ’n eie blommeprag.
Dorp van Dromers het besef dat daar so baie sogenaamde ‘onkruidblommetjies’ op grasperke en openbare plekke is waar bye baljaar. Dit is ideaal vir die insekte om hulle werk as heuningmakers te doen. Bye word wêreldwyd al minder weens die gebruik van gifstowwe en toename in boedery wat hulle natuurlike kos uitwis. En as hulle uitsterf, of so erg verminder, hou dit gevaar vir kossekerheid en die mensdom in.
Laat die onkruid blom!
“Mense is geneig om natuurlike plantegroei uit te wis om eerder grasperke aan te lê. Dit sal goed wees as gedeeltes van die grasperke waar Dandelions (paardebloeme) en klawer opkom, minstens ongesny bly vir sowat twee maande aan die begin van die lente sodat die bye kan woeker,” sê Dromer Elmarie Coetzee.
Die Dromers het die Parke Afdeling van die Kouga Munisipaliteit oorreed om plekke soos dié in Tecomastraat tot in Kabeljous nie vir die volgende twee maande te sny nie. Daar sal kennisgewingbordjies aangebring word met die woorde: Pardon the weeds, we are feeding the bees. Daar sal kennisgewings by die ingang van die dorp wees, en by die openbare area in AD Keetstraat.
Eie Namakwaland
Jeffreysbaai se eie Namakwaland in die oop area agter die Poplar/Mimosa parkie, wat ’n wilde deel is, is tans oortrek met die mooiste veldblommetjies en bolplante wat blom. Die Melkbosskoenlapper (African Monarch) en die Padwagtertjie (Blue pansy) is daar te sien.
Dandelions
Die mooi geel blommetjies van die Dandelion is familie van die sonneblom en aster. ’n Koppie vol van dié plant se groenigheid bevat meer as die aanbevole hoeveelheid vitamiene A en K. Die plantjies is van die eerste lentekos vir bye. Studies toon dat die saad van ’n Dandelion selfs ver oor die see kan versprei.
Tuine
Inwoners word aangemoedig om blomme te plant om bye te lok, en selfs gras te plant wat blommetjies maak. Of om selfs ’n veldblom area in die tuin te laat groei. Die kwekerye kan help om die regte plantjies vir die area te kies. Eerste prys sal ’n wildblom grasperk wees. Dit sal minder werk beteken, gras hoef nie gesny te word nie, en die habitat vir insekte – veral bye, word vergroot.