Die nuwe Suzuki Swift 1.2 GLX MT. Foto’s: Willemien Green

As jy die kans kry om die nuwe Suzuki Swift 1.2 GLX MT te toetsbestuur moet jy die geleentheid ten spyte van die inperkingsregulasies en zero moolah aangryp.

Boonop is die motortjie, net soos alle Suziki’s ook lig op petrol, sluk glo so 4.9 liter/per 100 km gemiddeld, so ’n 116 km road trip na Oesterbaai was darem haalbaar!

Met dié dat sosiale afstande gehandhaaf moet word was die idee van ’n piekniek op ’n afgeleë strand ook dan ’n verstandige besluit!

Omdat dit net ’n daguitstappie was, het ek my nie bekommer oor die effense klein bagasie-ruimte nie. Dit kan in elk geval vergroot word deur die agterste sitplekke vorentoe te vou.

Vir dié beplande rit het ’n 22-jarige met lang bene redelik gemaklik op die agterste plek ingepas en drie seilstoele, ’n opvoutafeltjie en ’n groot piekniekmandjie, met gemak in die bagasieruimte.

Daar is nie juis veel nuwe veranderings aan-gebring as die vroeër weergawe van die motor nie, dis eintlik net slim “meer sportief” gemaak soos die mooi allooi wiel-ontwerp, swart dak en nuwe rooster.

Flaminke by die Seekoeireservaat in Ashtonbaai.
Die sprokiesmooi Oesterbaai.Foto’s: WILLEMIEN GREEN

Binne is dit nie vreeslik luuks nie, maar ingerig met die nodige om die lewe gemaklik en lekker te maak.

Terwyl manlief met die raakskerm doenig geraak het, kon ek voet in die hoek sit danksy die 1.2 liter, 4-silinder enjin met 61 kW en 112 Nm krag onder die enjinkap.

Dit klink dalk na min, maar omdat die motor goed gebalanseer is en nie swaar is nie, trek die motor gemaklik, selfs op die langpad.

Die motortjie wat eintlik vir stad bedoel is, het die ongeveer 30 km grondpad van die N2 af tot by Oesterbaai gemaklik gery, al kan die pad doen met ’n goeie skraap!

Oesterbaai is nog net so asemrowend soos wat ek dit onthou sedert my laaste besoek daar, amper meer as 10 jaar gelede.

Na ’n onsuksesvolle winderige piekniek-proeflopie op die strand het ons maar ’n koppie boeretroos uit die warmfles geniet en die karretjie se neus terug in die rigting van Kaap St Francis gedraai met die hoop om dalk in die Irma Booysen-blomreservaat piekniek te gaan hou.

Jy kan jou motor in Birkenheadlaan parkeer by die ingang van die reservaat wat die tuiste van ’n magdom blom-en plantspesies is.

Die ontstaan van die reservaat is te danke aan Irma Booysen wie se familie die oorspronklike eienaars van die plaas Ongegunde Vryheid was.

As die wind jou weg hou van Kabeljous se strand af, neem dan maar prettige foto’s!

Daar is sommer ’n hele paar staproetes wat jy op eie houtjie kan gaan stap.

’n Ses kilometer stap deur die reservaat is ook by die gewilde naweek Chokka-staptroete ingesluit as jy dit eerder in ’n groep sou wou doen.

Die wind laat hom nie voorsê nie en kans om die mandjie uit te pak was daar net nie.

Maar wat wou, toe sit ons af see se kant toe en net daar, snoesig in die motor, met die mooi-ste uitsig oor die see en ’n gedeelte van die dorp, kon die piekniekmandjie uiteindelik oopgemaak word!

Boonop kon ons die branderplankryers se mannewales dophou, ook die enigste spesie op twee bene wat dit in sulke winderige omstandighede in die see sou waag!

In ander omstandighede is daar op die grasperk langs die strand oulike tafeltjies in die vorm van branderplanke waar jy gerieflik sal kan piekniek hou.

Daarna het ons deur Astonbaai gery waar ons die flaminke reg langs die pad in die See-koeireservaat kon sien.

Die laaste stop was by Kabeljous aan die buitewyke van Jeffreysbaai om te kyk of ons nie die stapel Klippe van Herinnering wat deur Daan Siebert en sy kleindogter van Jeffreysbaai daar begin is, te sien kon kry nie.

Maar helaas, toe lig die wind ons byna van ons voete af en ’n besoek aan die besienswaardigheid sou maar tot ’n volgende keer moes oorstaan!

’n Mens kan die karretjie, wat ongeveer R218 900 eerstehands kos, maar die eer gee wat hom toekom.

Dit is ’n kompakte motortjie wat meer kan doen as wat van hom verwag word.

You need to be Logged In to leave a comment.