GAMTOOS-toerisme hou op Woensdag, 4 November ’n spogtee met die gewilde geleentheidsbeplanner en televisie-aanbieder, Aleit Swanepoel, van Tyd met Aleit.
Dié besoek vorm deel van sy reis deur Suid-Afrika.
Na ’n baie deurmekaar begin wat 2020 gebring het, is dit vir Aleit ’n groot voorreg om weer op die pad te kan wees. Dit is so na aan sy hart om mense te inspireer.
Die doel van sy reis is om die woord van hoop en positiewiteit deur die land te versprei en om mense net weer bymekaar te bring wat uitgehonger is vir goeie geselskap.
Aleit se praatjie handel deels oor sy storie en sy reis tot en met die Tyd Met Aleit televisieprogram. Dan deel hy huis- en modeneigings wat vir elke dame ’n lekker uitdaging is om oor na te dink.
Aleit sluit af om ’n stukkie te deel oor sy dogter en hoe hy hierdie grendeltydperk gebruik het om weer positief na te dink oor wat die toekoms inhou.
Sy doel is om terug te gee aan die gemeenskap. Om by sy aanhangers te gaan kuier wat nie altyd die geleentheid kry om in groot stede na hom te gaan luister nie en om weer Suid Afrika te herontdek.
Hy gebruik die geleentheid om mooi dele van die land af te neem en daaroor op sosiale mediaplatvorms te spog.
Die spogtee vind om 11:00 op Woensdag, 4 November by The Venue by Pabala op die R331 tussen Loerie en Hankey plaas.
Kaartjies kos R220 per persoon en sluit ’n R20 kaartjie vir gelukkige trekkings, asook ’n verrassings-pakkie eg uit die Gamtoosvallei in.
Vir meer inligting, stuur ’n epos na info@baviaans.net of whatsApp 083 556 3206.