JOHAN Herselman (67), ondervoorsitter van Paradysstrand Buurtwag, is twee weke gelede naby Kings College in Jeffreysbaai deur drie booswigte van sy fiets afgeruk en met messe aangeval.
Herselman ry elke oggend om 05.30 ’n aantal kilometers en was dié dag vanaf Paradysstrand na Jeffreysbaai onderweg toe hy onverwags aangeval is. Omdat hy altyd paraat is, was hy teen dagbreek soos altyd op die uitkyk na enigiets vreemd. Die pad was skynbaar verlate, maar toe hy by die skolier-oorgang van Kings College verbygaan, het ’n figuur voor hom ingespring. Toe hy die fiets tot stilstand bring, het nog iemand hom van die regterkant gegryp en van die fiets afge-stamp.
Toe ’n derde persoon hom reg van voor gryp, het hy probeer keer, want die aanvallers was met messe gewapen en het dadelik na sy liggaam begin steek. Twee het hom met hul knieë teen die grond vasgepen en die derde aanvaller het sy selfoon van sy nek af probeer ruk. Hulle het ook sy tweerigtingradio wat hy as buurtwag-lid altyd by hom het, uit ’n sakkie probeer gryp.
Herselman kon daarin slaag om een teen die nek te trap en die ander een van hom af weg te slaan. Van dié vuishou het hy twee stukkende plekke op sy hand oorgehou.
’n Bekende Jeffreysbaaise ysterwarehandelaar, wat hy net as Vince ken, het onverwags met sy bakkie by hulle gestop en die voertuig se ligte op hulle geskyn. Twee van die skurke het Herselman intussen weer vasgegryp, maar hulle het weggehardloop toe Vince en ’n vriend uit die bakkie spring. Smhart- en ADT-voertuie het intussen ook by die toneel gestop.
Hulle het hom na die SAP-kantore vergesel, waar ’n klag van aanranding aangemeld is. Hierna het Eddie en Ian van Smhart-Sekuri-teit Herselman se fiets opgelaai, en Eddie het hom na sy private motorhuis toe geneem. Herselman het nie genoeg woorde om dié twee manne en, veral vir Vince, te bedank vir hulle ingryping en medemenslikheid nie.
Herselman, ’n boorling van Robbehoek, voormalige seiner by Voortrekkerhoogte tydens sy diensplig, asook grenssoldaat in Angola, kon danksy sy gesonde lewensgewoontes en fiksheid die aanval afslaan.
Op Dinsdag,15 Mei, is daar duskant dieselfde skool en naby die rioolwerke, weer twee mans aangeval, geskop en geslaan en van geld en ’n selfoon beroof.
Herselman ry steeds elke oggend fiets en bly baie bewus van die toenemende aggressie van sommige jeugdige inwoners rondom die ge-noemde skool.