NAGENOEG 40km buite Jeffreysbaai lê die Van Stadens-natuurre-servaat soos ’n groen toegvlugsoord weerskante van die nasionale pad tussen die Van Stadenskop in die noorde en die kuslyn suidwaarts.
In hierdie 600 hektaar groenig-heid kan inheemse plante, waaronder verskeie bedreigde spesies, voëls en kleinwild onder bewaring gedy en besoekers kan dit daagliks gratis besoek.
“Toeriste van oral oor die wêreld kom hierheen om die unieke plantegroei van dié omgewing te besigtig,” sê Goodman Matsha, die reservaat se bestuurder. “Die reservaat dien ook as ’n belangrike omgewings-navorsings-en opvoedkundige sentrum.”
’n Datsun Go sal deug
Dis nie die soort reservaat waarvoor jy ’n bielie 4×4 nodig het nie. Selfs ’n lughawe-huurkar of ’n Datsun Go sal deug.
Die Reservaat se ingangshek het skaars in die truspieëltjie verdwyn voor jy die Blomhuis (Flower House) aan die linkerkant van die pad sal sien.
Hier kry jy ’n uitstalling van plantspesies met hulle korrekte name, sodat jy jou kennis van die inheemse plantegroei in die reservaat so bietjie kan verbeter. Kyk of jy dalk die plante in die reservaat kan eien. Teen die muur van die Blomhuis is daar ook plakkate gemonteer om mense bewus te maak van indringerplante, die grootste bedreiging vir die inheemse soorte en die negatiewe gevolge as die uitheemse plante nie verwyder sou word nie.
Die Blomhuis is die spilpunt vir die stap- en ryroetes in die park. Jy kan hier parkeer en die park te voet of op ’n bergfiets langs een van die uitgemerkte roetes verken. Die 11 km-Van Stadens-sirkelroete is die langste hiervan en begin sommer by die Blomhuis. Dit sal jou sowat drie ure neem om te voltooi, as jy nie te veel langs die pad rus nie.
Die nimf-roete begin kwalik ’n honderd meter verder, by die tweede verkeersirkel in die reservaat, en is ’n matige 3 km-roete. As jy ’n fikse stapper is, kan jy dit kombineer met die roete deur die inheemse woud. Op dié roete kan jy verskeie uitsonderlike boomspesies soos die plaaslike Atalaya capensis of Kaapse kranses sien.
Dié roetes is ’n goeie manier om die reservaat behoorlik te verken en om meer van die inheemse plantegroei te leer. Daar is oral plaatjies aan die bome met dié se wetenskap-like- en noemname aangebring. Die fynbosroete en die damroete begin ook by die sirkel en is albei gemaklike staproetes.
Die drie fietsry-roetes is in geel, blou en rooi gemerk, waarvan die 5 km-rooiroete die langste een is.
Al drie die roetes is hoofsaaklik op gelyke oppervlakte geskik vir oud en jong fietsryers.
Jy hóéf egter nie te stap of trap nie. Die grondpaaie in die reservaat is geskik vir enige motor en selfs die Datsun Go is hoog genoeg sodat die middelmannetjies op die grondpaaie nie eers ligweg teen die onderstel van die kar skuur nie. Ry maar net stadig. Die kans is groot dat ’n bokkie of skilpad die pad voor jou gaan oorsteek.
’n Ware fee-paradys
Die arboretum, eens die kwekery in die reservaat en ook nou die tuiste van die oudste bome, is ook ’n kort staproete, maar die een is net 600 m lank.
Dit is ’n lekker roete om met die kleingoed te gaan stap. Allerlei vreemde sampioene groei teen die stukke boombas, en oral is goggas, vlinders en voëltjies by die waterbakke om dop te hou, net die regte plek om jou verbeelding te laat gaan en heerlike sprokies-verhale op te dis, ’n ware fee-paradys.
Die 4 km-rivierroete wat ook eerder vir fikse stappers geskik is, begin net voor die arboretum en volg die kontoere van die steil hellings tot by die Van Stadensrivier. As hoogtevrees en swak knieë jou nie opkeil nie, kan jy ook die paadjie teen die kant van die kloof gaan stap, vanwaar jy ’n goeie uitsig oor die Van Stadensbrug het.
Onder die imposante boogbrug kan jy asem skep voordat jy weer die pad boontoe aandurf.
Die voëlskuiling by die dam aan die noordwestelike kant van die nimfroete is ook ’n gawe uitspanplek en jy kan boonop tot baie naby ry en dan net ’n kort entjie stap tot hier. Die skuiling is toepaslik gedoop Crow’s Nest, omdat dit van allerlei optelmateriaal gebou is. Dis die handewerk van die Vriende van Van Stadens wat al sedert 2007 in oorleg met die munisipaliteit gewaardeerde bydraes maak om die reservaat in stand te hou. Die eerste twee voëlskuilings is in 2016 en weer in 2017 tydens die brande in die re-servaat verwoes. Die geweldige brand in 2017 het die Longmorewoud sowel as die hele Van Stadens-reservaat verwoes en daar is steeds tekens daarvan in die reservaat te sien.
Die vrywilligers van die Vriende van Van Stadens het telkens gesorg dat die voëlskuiling weer uit die as verrys. Van die hier af het jy ’n lieflike uitsig oor die dam en die Lady Slipper-kop.
Daar is ongeveer 170 voëlspesies in die reservaat, waaronder die rooibors- en bosjakkalsvoëls, kroon- en dwergarende en edel- en swerfvalke. Bring ’n fles koffie of tee saam om die gewag net soveel aangenamer te maak.
Omdat die Vriende van Van Stadens nie geldelike steun van die munisipaliteit kry nie, hou die groep, gewoonlik in Oktober, ’n jaarlikse plantverkoping in die reservaat. Die plante wat dan te koop is, is deur die vrywilligers self gekweek en kom nie uit die reservaat nie. Dit is verbode om enige plante of diere uit die reservaat te verwyder.
Tydens die plantverkoping is daar ook vermaak soos ’n bergfiets-wedren en stalletjies wat snuisterye en eet- en drinkgoed verkoop.
Dié geldinsameling het al gesorg vir genoeg fondse en ’n sementmenger om herstelwerk aan die park te doen en ook vir sitplek in die braaiarea. Die braaiplek is in ’n be-skutte deel gebou om te verhoed dat die veld per ongeluk aan die brand gesteek word, maar as jy hier ’n tjoppie op die kole wil gooi, moet jy vooraf toestemming verkry.
Pak jou piekniekmandjie
Pak liewers ’n piekniekmandjie met gekookte eiers, koue vleis en ’n paar toebroodjies en ’n kombers en mik vir een van die vier piekniekplekke aan die bokant van die groot sirkelroete.
Jy kan dié piekniekplekke te voet of per motor bereik.
By een van die piekniekplekke is daar ’n outentieke Afrika-hut met ’n beskrywing daarby wat die gebruik daarvan verduidelik.
Rol jou moue op
Om die reservaat ten volle te waar-deer gaan meer as een dag of een besoek verg. Maak dus vroegtydig ’n nota in jou dagboek vir die volgende langnaweek of Oktobermaand se plantverkoping.
Of beter nog, sluit aan by die Vriende van Van Stadens, rol jou moue op, woon die maandelikse byeenkoms by en spring daadwerklik in om te help om indringerplante te verwyder en instandhoudingsta-kies te verrig.