’n PLASING op sosiale media het wyd onthutse menings uitgelok, nadat ’n blomdief helder oordag ewe vermetel al die blomme in volle bloei van ’n bos in ’n pastorietuin in Astonbaai gestroop het.
Die eienaar het só reageer: “Ek soek na die agent uit die poel van Hades wat al my Strelitzia-blomme in my tuin afgeknip en ‘geneem’ het. Die botsels is in die erf langsaan gegooi, maar die hele bos is gestroop. Blomdief, God se oë is op jou ook.”
Lesers het sterk gesels. “Agge nee, man. Van alle dinge wat daar is; jou blomme,” knor Cindy Smit.
Wilma de Wet sê: “Dit maak my so woedend”, en Thea Trollip meen die dief het geen respek vir ander mense se goed nie. Ander sê so ’n mens het geen gewete nie.
“Gaan kyk waar ’n troue of begrafnis is,” gee Carolina Troskie raad om die astrante dief te vind.
’n Ooggetuie vertel hoe hy op die betrokke dag verby die huis gery het, maar in onkunde gemeen het dat die gesette man met die langsteel tuinskêr die tuinman daar is. “Ek was eintlik heel verbaas dat hy die pragblomme almal afknip,” sê hy.
Die blomme wat nog nie oop was nie, is ook afgesny en summier in die oop erf langsaan gegooi.
Waar nog?
Op die vraag of dieselfde elders voorkom, skryf Heather Coetzee van Jeffreysbaai: “Ek het vandag in my voortuin bolle gaan plant, en wrintiewaar het iemand een van my plante uitgehaal. Wie dit ookal was, jy kon net gevra het. Ek sou graag vir jou gee.”
Op Rachie Badenhorst se vraag: Nou wie sal blomme uit iemand anders se tuin neem (steel)? antwoord Lizette van der Vyver: “Baie mense stap verby en help hulself. Tot tuinornamente verdwyn.”
Die een vrou sê as daar nie heining /muur is nie, is dit “free for all.”
Dalene Smit sê prontuit dat mense hul hande moet tuishou van wat nie aan hulle behoort nie!
’n Geliefde van my het twee lieflike speldekussing Protea-bosse voor hul dubbelverdieping huis, vertel Eurika Buckle. “Hulle kyk soms van bo af en sien hoe ou tannies en ooms die arme plant letterlik verwoes van ruk en pluk om gou-gou ’n stuk daarvan te steel. Kyk ewe skuldig rond ook nog.”
Sy vra waarom hulle nie net klop en vra nie. “My sus het ’n goue hart. Sy sal enige tyd ’n skêr vat en vir die persoon gee.”
Hulle het ook speldekussing boompies geplant van hul huis af op met die straat tot by stopstraat. “Daai boompies oorleef dit nie. Dit word òf gesteel òf die munisipaliteit verwoes dit as hul gate grou vir waterlyne. Dit kos mos nou niks om dit net weer terug te plant nie.”
Oor die Strelitzias sê Sue Coetzee dat die diewe dit kom verkoop.
Dit is “algemene kennis” dat ’n vrou in Astonbaai gereeld van tuin tot tuin alternatiewe “inkopies” doen – veral met vetplantjies.
In dieselfde straat as die gemelde pastorie, wys ’n vrou meëwarig na die die oorblyfselfs van haar uitgedunde versameling van dié plante in haar voortuin.
Die wye mening is dat eienaars maar hul blomme nou ook moet be-veilig.