ATKV-tak Brandervolts teatergroep
Die ATKV-tak Brandervolts se teatergroep. Foto: Veronica Fourie

JEFFREYSBAAI – Die teatergroep van die ATKV Brandervoltstak op Jeffreysbaai het twaalf jaar lank gehore vermaak met musiek en woord.

Hoewel die tak met sy aktiwiteite sal voortgaan, het die teatergroep nou uitgetree ná twaalf jaar se vermaak.

Menno Mostert (kreatiewe dryfkrag, entertainer en sanger), Tersia Strydom (taalkenner en verteller), Machteld Smit (klavier en musikale anker), Donovan Young (sanger, veelsydige kitaar- tromspeler) en Annamarie Serrao (tjellospeler en transkribeerder) het vir oulaas die gehoor vermaak met hulle laaste produksie ‘Koebaai’.

Hulle het, tesame met vorige lede, jarelank vol sale bederf met hulle besondere kreatiwiteit en talent.

Dié tak van die ATKV het sedert 2013 elf produksies aangebied wat Afrikaanse kultuur, musiek, poësie en geloof gevier het. Hulle werk het gemeenskappe geraak en merkwaardige vertonings gelewer.

Tydens hulle laaste optrede by die Oase kerk, het die streekverteenwoordiger van die ATKV en Skouerklop Toekenning aan elke lid oorhandig, en ’n Afrikoon Toekenning aan die groep.

Die ATKV sê hulle verdien die toekenning vir: “Die skep van oorspronklike Afrikaanse werk wat gemeenskappe regoor die land bereik, ’n getroue en kreatiewe verbintenis aan die behoud, uitbreiding en viering van die Afrikaanse taal. Dis ’n kunsgroep wat Afrikaans laat leef – nie as museumtaal nie, maar as ’n lewende, liefbare werklikheid. Brandervolts is die stem van Afrikaans op sy mees opregte, mees beeldende, mees menslike.

“Met elke produksie bou hulle aan die toekoms van die taal – ’n toekoms waar Afrikaans nie net oorleef nie, maar floreer. Vir hul bydrae tot Afrikaanse taal- en kultuurbou, verdien Brandervolts Teatergroep nie net hierdie toekenning nie – maar ’n ereplek in die hart van die Afrikaanse gemeenskap.”

ATKV-tak Brandervolts teatergroep
Die ATKV-tak Brandervolts se teatergroep het vir oulaas ‘n voortreflike produksie aangebied. Met ‘Koebaai’het hulle vir die laaste keer saam die gehoor vermaak. Die tak gaan egter voort. Van links is Donovan Young, Machteld Smit, Menno Mostert, Annemarie Serrao en Tersia Strydom. Foto: Veronica Fourie

Van hulle produksies oor die jare sluit in:

  • Kom Loop die Pad – 13 Desember 2013
  • Afrikaans op sy Beste – 5 September 2014
  • ’n Viering van Afrikaanse musiek, poësie en kultuur, Hierdie Kind – 28 November
  • Intieme Tussenspele – 2015–2016

En ’n reeks kleiner vertonings by huise, ouetehuise en oggend-tees.

  • Musiek en poësie in gesprek met die gemeenskap, Terra Nostra (Ons Land) – 26 Julie 2018
  • Viering van tuiste en identiteit, Goue Treffers uit die Afrikaanse Skat – 24 September 2018
  • Krismis in Afrika – 28 November 2019
  • Moertoe maar Moedig – 2021
  • Hoop – Ons Kersgeskenk – 11 Desember 2021
  • Hoop (verwerkte weergawe) – 30 November 2022
  • Lig – 28 November 2024

Hulle het verskeie ATKV toekennings vir produksies oor die jare ontvang, en by verskeie dorpe en geleenthede opgetree.

“Van ons sal nog deel bly van ATKV Brandervolts, en hoop om nog ‘n bydrae te kan lewer tot die bevordering van Afrikaans, en om ons talente uit te leef,” sê Menno Mostert wat jare lank die voorsitter van die tak was. Hy dien nou as onder-voorsitter.

“Ons nooi die mense van Jeffreysbaai wat lief is vir kultuur en ons taal, om by ons aan te sluit. Hier is geleentheid om jouself uit te leef, of net ‘n ondersteunende lid te wees. Kontak my gerus by 078 496 4401.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article