Die ATKV Brandervolt en ATKV-jeugtak, Staan Rotsvas, het hulle merk gemaak en erkenning gekry by die ATKV se jaarlikse Kultuurkuier met twee uitstaande projekte wat gemeenskapsdiens en kreatiwiteit bevorder.
Met die gemeenskapsprojek Brille vir Matrieks, het hulle met verskillende oogkundiges saamgewerk om matriekleerders van die Jeffreys Bay Comprehensive se oë te laat toets. Die wat ‘n bril sou nodig hê, het dit gratis gekry, om sodoende hulle akademiese pad te verlig.
Hierdie projek het die toekenning gekry vir die projek van hoogstaande gehalte met gemeenskap as fokus.
ATKV Brandervolts het ook ‘n toekenning gekry vir hulle Kersproduksie Lig . Dit is beskou as ‘n produksie van hoogstaande gehalte met kunste as fokus. Dié inspirerende produksie het gehore betower met die boodskap van lig in donker tye. Die kreatiewe talent van Donovan Young, Menno Mostert, Tersia Strydom, Machteld Smit en Annamarie Serrao het die boodskap uitgebeeld.




