Daar is bykans 500 000 mense in Suid-Afrika wat tans op die waglys is om orgaanoorplantings te ontvang wat hulle lewens sal red. Die werklike aantal orgaanoorplantings wat in Suid-Afrika plaasvind is egter slegs ’n breukdeel van dit wat nodig is om al hierdie mense te red. Joané Azenha het meer hieroor gaan uitvind.
Daar is in 2019 slegs 356 orgaanoorplantings in ons land gedoen. Dit beteken dat daar duisende mense is wat wag vir lewensreddende operasies wat slegs kan gebeur wanneer iemand die onselfsugtige pad van orgaanskenking kies wanneer hulle of hul geliefdes tot sterwe kom.
Een mens kan sewe lewens red deur orgaanskenking. Dit is omdat die hart, albei niere, lewer en longe en pankreas elk na verskillende ontvangers toe kan gaan. Behalwe vir die sewe lewens wat gered kan word kan een enkele skenker tot 50 mense help deur weefsel, been, vel en korneas te skenk.
Kouga Express het met ’n jong man vanuit ons gemeenskap gesels oor die lewensreddende nieroorplantning wat hy in 2012 ontvang het. Die paadjie na hierdie lewenslyn was egter vir hom, soos vir vele ander pasiënte, nie ’n maklike een nie.
JP Cawood is gebore met ongeveer 30% nierfunksie in een van sy niere en die ander nier het bykans geen funksie getoon nie. Sy ouers het dus van geboorte af geweet dat hy eendag ’n nier sou moes ontvang. Hy is ook reeds van geboorte af op die Suid-Afrikaanse lys vir orgaanoorplantings.
“Ek het geweet ek is anders as ander kinders en kon nie aan kontaksport soos rugby deelneem nie, maar my ouers het my so normaal moontlik grootgemaak. Hulle het nie toegelaat dat my siekte my terughou nie en ek het elke geleentheid aangegryp om voluit te lewe.”
Vir Cawood was dit nie ’n opsie om ’n lewende skenking vanuit sy familie te ontvang nie omdat slegs sy ma ’n skenker vir hom kon wees, maar sy het self nierprobleme ervaar en is nie goedgekeur om vir haar seun ’n nier te skenk nie. Dus is hy, soos soveel ander mense, uitgelewer aan die goedhartigheid van vreemdes wat hul organe skenk met hul afsterwe.
Op die ouderdom van 16 jaar, dus na 16 jaar op die waglys, het Cawood uiteindelik die goeie nuus gekry dat daar ’n gepaste skenker vir hom was en hy het in die Rooikruis kinderhospitaal in Kaapstad sy oorplanting ontvang.
Ongelukkig was die oorplanting nie ’n sukses nie as gevolg van ’n bloedklont wat die nier belemmer het om sy funksie te verrig. Die nier moes noodgedwonge weer verwyder word.
Vir die sestienjarige Cawood was dit ’n enorme telleurstelling om uit die Kaap terug te keer sonder die nier waarvoor hy al sy lewe lank gewag het.
“Vanaf 2009 het my toestand so verswak dat ek op dialise moes gaan. In daardie stadium was ek ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch en ek moes my studies staak as gevolg van my afhanklikheid aan dialise. Ek was vir twee jaar elke aand aan die dialisemasjiene gekoppel en moes ’n sekere tyd by die huis wees sodat ek op die masjiene kon gaan.
“Na twee jaar het ek ’n ander soort dialise begin kry, wat beteken het dat ek drie maal per week by die Policlinic in Jeffreysbaai moes dialise ontvang vir omtrent vier ure per dag.”
Op 4 Desember 2012 tydens ’n normale aand by die huis saam met sy gesin het hy die oproep ontvang waarvoor hy ses jaar gewag het. Hy is in kennis gestel dat daar vir hom ’n nier beskikbaar is en hy onmiddellik in die Kaap moes kom.
“Dit was wonderlik. Ons kon dit amper nie glo nie. Die kans dat een mens twee keer in ’n leeftyd ’n nier vanaf die skenkerlys kon kry was amper nul. Toe begin die resies om in die Kaap te kom, omdat ek slegs 8 ure gehad het tot die operasie moes gebeur. Ek en my ma het deur die nag gery om in die Kaap te kom en op 5 Desember 2012 het ek my nuwe nier ontvang.”
Cawood vertel dat daar ’n hoë kans op verwerping is wanneer ’n tweede oorplanting gedoen word en almal het hul asems opgehou om te sien wat sou gebeur. Vir die eerste drie weke na die operasie het die nier amper geen funksie getoon nie en dit het gelyk of die oorplanting weer eens nie suksesvol was nie, maar na drie weke het die nier skielik begin funksioneer.
“Dit was ’n absolute wonderwerk. Dit het my lewe verander. Vandag leef ek heeltemal normaal en absoluut voluit. Ek het ’n tweede kans op lewe gekry en ek gebruik elke oomblik daarvan.
“Gholf is my passie en ek het na my oorplanting by die PGA ’n leerlingskap en diploma in sportbestuur gaan doen.”
Cawood het ook Suid-Afrika verteenwoordig by die World Transplant Games in 2015 in Argentinië, waar hy twee goue medaljes verower het; in 2017 in Spanje waar hy een silwer- en een bronsmedalje gewen het en in 2019 waar hy met een silwermedalje weggestap het.
Deesdae beywer hy homself vir die bewusmaking van die belangrikheid daarvan om as ’n orgaanskenker te registreer. Slegs 0.2 % van Suid-Afrikaners is orgaanskenkers, wat bete-ken dat duisende gesonde organe begrawe word wat vir iemand soos Cawood ’n nuwe lewe kon beteken.