Balle is wéér aan die rol

GEDINK dit is net bejaardes in wit klere wat balle op die rolbalbaan rol?.


GEDINK dit is net bejaardes in wit klere wat balle op die rolbalbaan rol?

Hoewel die spel baie “verjonk” het en rolbalspelers van in hul dertigs ’n algemene verskynsel is, draai ’n kranige Jeffreysbaai-speler van 16 die opvatting finaal nek om. Zayne Bekker.

Bekker is die jongste lid van die Jeffreysbaai-rolbalklub, terwyl Mally Richards (88) die oudste aktiewe speler is. Die oudste lid is 93.

Dié klub, gestig in 1973, spog tans met 175 lede. Hulle nooi oud en jonk – veral jonk – om vir ’n dag of drie by hulle aan te sluit. Maar wees gewaarsku, die spel is verslawend.

Professionele spelers sal belangstellendes touwys gemaak word. Die voorvereiste is skoene met gladde sole sonder ’n hak of andersins kaalvoet speel. Balle sal voorsien word.

Daar is geen koste aan verbonde nie.

“Rolbal is ’n wonderlike sport wat deur almal geniet kan word,” sê Jackie van Heerden.

En die grootste pluspunt?

“Dit is ’n maklike manier om nuwe vriende te ontmoet,” sê sy.

Die klub het drie topgehalte bane (twee met spreiligte), asook ’n groot klubhuis met ’n kombuis en kroeg. Sosiale rolbal word elke Woensdag, Vrydag en Saterdag gespeel, terwyl daar op ’n Dinsdag en Donderdag geoefen word.

Verskeie kompetisies word deur die jaar aangebied: onder meer die besigheidsliga en verskeie borgdae. Nomad-rolbal word elke tweede maand op ’n Sondag gespeel waarvan die opbrengs aan liefdadigheid geskenk word.

Die bane word verder vir nasionale-, interdistrikte- en OP-kompetisies gebruik, asook vir die All Cape-rolbaltoernooi wat elke vier jaar in die Oos-Kaap plaasvind.

Vir meer inligting, skakel Van Heerden by 072 492 9313.

You need to be Logged In to leave a comment.