’n BEJAARDE man van Jeffreysbaai (79) is Dinsdagoggend dood in sy huis aangetref, waar hy vasgebind aan ’n stoel, met ’n plastieksak oor sy kop gesit het.
Alles dui daarop dat Johnnie Marx as gevolg van die plastieksak wat oor sy kop vasgebind was, versmoor het.
Carl Trahms, eienaar van Smhart Sekuriteit in Jeffreysbaai, sê sekerheidsbeamptes het op Marx se lyk afgekom toe hulle om 21:00 die deur van sy huis in Wavecrest gaan aftrap het, op die versoek van sy familie.
Trahms sê inligting wat bekom is dui daarop dat Marx na 04:00 die oggend opgestaan het.
Hy het sy alarm deaktiveer en kort daarna die deur van sy motorhuis oopgemaak om in sy bakkie werk toe te ry.
Luidens Trahms is Marx deur ’n groep mans (dit is nie duidelik hoeveel aanvallers daar was nie) oorval, en weer by die motorhuisdeur ingestoot.
“Sy aanvallers het hom na die slaapkamer geneem waar hulle hom in ’n stoel vasgebind het.
“Hulle het die pinnommer van sy bankkaarte geëis. Marx het dit vir hulle gegee.”
Voordat die mans op die vlug geslaan het, het hulle die plastieksak oor sy kop gebind, en goedere uit die huis gesteel.
Die oorledene se vrou was ten tyde van die voorval by die egpaar se dogter in Uitenhage aan huis.
Die familie het die sekerheidsmaatskappy om 19:00 ontbied toe hulle nie vir Marx in die hande kry nie.
“Sekerheidsbeampte van Smhart het die deur ingeskop en het deur die huis vir Marx begin soek.
“Aanvanklik kon hulle hom nie kry nie, want daar was komberse oor hom en die stoel gegooi.
“Dit wil voorkom asof die mans talle aankope met die oorledene se bankkaarte gemaak het,” sê Trahms.
Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê in die stadium is die motief vir die moord, en die oorsaak van dood nog onbekend.
“Op die toneel is ’n kluis oop gevind, maar dit is in die stadium nog onduidelik of enigiets gesteel is,” aldus Nkohli.
’n Moorddossier is geopen.
Enigeen met inligting word versoek om die polisie se teenmisdaadnommer by 08600 1011 te skakel.