Tommie en Thea Marx het drie maande gelede hul 24ste huweliksherdenking gevier.

NÁ ongeveer 20 dae op ’n ventilator in die St. George-hospitaal in Nelson Mandelabaai, het die mede-eienaar van die Private Care Ambulansdiens, wat ook ’n steunpilaar in die Humansdorp-gemeenskap was, onlangs sy stryd teen COVID-19 verloor.

Tommie Marx (54) is die nag van 18 Augustus oorlede nadat hy eers die virus vir twee weke lank by die huis beveg het.

Hy het blykbaar goed aangesterk totdat hy skielik probleme met sy bors ontwikkel het en toe in ’n hospitaal in Humansdorp opge-neem is. Hy is uiteindelik na Nelson Mandelabaai oorgeplaas.

Marx se vrou, Thea, is stukkend.

Hulle het in Mei vanjaar hul 24ste huwe- liksherdenking gevier en is sedert 1990 in Humansdorp waar hulle nege jaar later hul eie ambulansdiens op die been gebring het.

“Tommie was baie lief vir die gemeenskap en was by verskeie projekte, onder meer op windplase, betrokke. Hy was ook ’n parame-dikus en dan het hy ook betrokke geraak by die bestuur van die besigheid. ’n Mens kan sê dat hy ’n jack-of-all-trades was,” verduide-lik Thea.

Sy sê aangesien sy self ’n paramedikus is, het sy realisties probeer bly terwyl haar man in die hospitaal om sy lewe geveg het.

“Met ons ambulansdiens vervoer ons baie sulke [COVID-19] pasiënte, so ek wou realisties wees. Die suster aan diens het my daar-die aand gebel en elke keer as die telefoon gelui het, het ek yskoud geword en gewonder watter nuus ek sou kry en of dit goed of sleg sou wees.

“Toe ek die oproep met die slegte nuus kry, was ek verpletter. Jy bid, jy hoop en jy glo, maar dan kry jy daardie skok en dis verpletterend,” sê sy.

Volgens Thea het dit geblyk dat haar man sou herstel, maar hy het COVID-longontste-king en later ’n ulkus ontwikkel voordat hy gesterf het.

“Dit is ’n lang pad wat ons saam gestap het en dit voel so onwerklik. My seun vra klomp keer op ’n dag vir my: ‘Pa is regtig dood né?

“Hy het ’n ongelooflike band met sy seun, Geo, gehad. Hy is nou 17 jaar oud. Tommie het ons nooit alleen gelaat nie. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, maar hy was net altyd daar vir ons,” sê Thea met ’n sug.

Tommie en sy seun, die 17-jarige Geo, het ’n baie sterk band gehad. Photos:supplied

Sy vertel dat hy jare gelede artritis opgedoen het en heelwat pyn ervaar het maar nooit het daar ’n klagte oor sy lippe gekom nie, nie eens toe hy COVID-19 gehad het nie.

“Hy was altyd lief om te sê dat die son môre weer sal skyn.”

Thea sê van die beste herinneringe wat sy van haar man sal koester, is hul familie-uitstappies en hoe hulle lief was om saam op die grondpaaie te ry en net die natuur te geniet.

“Hy was ’n baie reguit man en het nie doekies omgedraai nie. Hy het die lekkerste kos gemaak en was wragtig die braaikoning. Ek gaan al daardie dinge so mis.”

Sy voeg by dat sy nooit besef het hoe diep haar man in mense se harte gekruip het nie.

“Ongelooflik baie mense het hom geken. Soveel mense het my gebel met sy sterfte en vertel watter groot impak hy op hul lewens gehad het. Ek het dit nie eens geweet nie,” vertel sy verwonderd.

“Ons harte is seer maar al wat ons nou kan doen is om voort te gaan met geloof van Bo. Met die wonderlike personeel by die besigheid sal ons aanbou op sy naam en hom ook op so ’n manier eer.”

’n Verbyry-gedenkdiens sal môre om 12:00 plaasvind en enigeen is welkom om daarby aan te sluit.

Die motors sal by die oop stuk grond oorkant die Nico Malan-koshuis by Tiger Wheel and Tyre bymekaarkom en eers deur Humansdorp ry en dan verby die egpaar se huis in Kempstraat.

You need to be Logged In to leave a comment.