BEKENDE en geliefde vrugtesmous, Dawid Breedt, het onlangs aan COVID-19 beswyk.

Wyle
Wyle Dawid Breedt. Foto: VERSKAF

Hy is op 2 September in die George Mediclinic oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou, Audrey, en kinders Eugene, Tertius, Marilene, Liezel en Tuanette asook vier kleinkinders.

Dawid is oorspronklik vanaf Lichtenburg in die Noord-Wes waar hy ’n byeboer was.

Eugene vertel, “My pa het nog altyd ’n passie gehad vir boerdery. Hy het ook ons kinders laat landbou swot, dit was in sy bloed.”

Dawid kon as gevolg van gesondheidsprobleme egter nie die boerdery volhou nie en het later na Joubertina verhuis waar hy met die boere in die omgewing bande gebou het en la-ter begin het om vrugte te koop en verkoop.

“Almal het my pa geken. Hy was ’n regte mense-mens. Hy het ’n sterk, dominerende persoonlikheid gehad. Hy het jou ingetrek.”

Ongeveer tien jaar gelede het Dawid sy be-kende staanplek by die BP-vulstasie ingeneem en was gereeld getrou op sy pos met stroopsoet druiwe, spanspekke, heerlike rooiwang-geel-perskes en appelkose.

Volgense Eugene het sy pa lewenslank met asma en emfiseem gesukkel en toe die COVID-kiem by hulle gesin aanklop het dit met hom baie swaar gegaan.

“Niemand weet waar hulle dit opgedoen het of wie dit eerste gekry het nie, maar die hele huishouding het deurgeloop.

“My pa het ná die 14-dae isolasietydperk beter gelyk, maar ’n paar dae daarna longontste-king opgedoen en is later opgeneem in George Mediclinic waar hy ná vier dae oorlede is,” het Eugene hartseer gesê.

“My pa het sy passie vir landbou en mense tot op die einde uitgeleef. Ons is bly dat hy vir 68 jaar lank kon doen waarvoor hy lief was.”

You need to be Logged In to leave a comment.