DAVID Wilmot (47) van Port Elizabeth, wat honderde beleggers met ’n buitelandsevaluta-skema saam uit meer as R23 miljoen bedrieg het, is tot tronkstraf van 15 jaar gevonnis.
Regter Johannes Claassen het Wilmot op 165 aanklagte van onder meer bedrog en die oortreding van verskeie finansiële wette in die handelshof in Port Elizabeth gevonnis.
Wilmot het beleggers (onder andere mense – ook in Jeffreysbaai – wat in dieselfde kerk as hy was, familielede, vriende en kennisse) belowe dat hy deur middel van sy maatskappy Novashore hul geld in buitelandse valuta gaan belê. Dit het aan die lig gekom dat Wilmot net sowat R2,5 miljoen belê het. Die res van die geld is vir sy eie gewin gebruik, hoofsaaklik om sy luukse lewenstyl te befonds.
Nie een van Wilmot se handelsrekeninge het ’n profyt getoon nie, maar hy het aan be-leggers voorgegee dat hy reeds reuseprofyt vir sy kliënte ingeryg het.
Nicolette Martin het ter verswaring van vonnis getuig sy en haar man, ’n Australiër, het R1 miljoen by hom belê en dit verloor.
Hulle het besluit om te belê omdat hulle van voorneme was om van Australië na Suid-Afrika te immigreer. Een van hul kinders is outisties en die egpaar wou hom by ’n skool in Suid-Afrika kry wat in sy behoef-tes kon voorsien.
“Ons het ons huis in Suid-Afrika verkoop om (by Wilmot) te kon belê,” sê Martin.
“Die verlies het ’n uiters negatiewe uitwerking op my gesin gehad. My man werk die afgelope tien jaar al in Australië om in ons finansiële behoeftes te voorsien. As buitelander kan hy nie hier werk nie.
“Hy word van die kans ontneem om sy kinders te sien grootword.”
Cherise Milne en haar man het R2,5 miljoen verloor. Dit het onder meer die geld in hul kinders se spaarrekeninge en hul pen-sioengeld en polisse ingesluit.
Tjaart van Zyl, staatsaanklaer, sê die gevoellose manier waarop Wilmot beleggers genader het om sy misdade te pleeg, dien as verswarende omstandighede. Hy sê Wilmot het baie tyd gehad om oor sy dade te besin en daarmee op te hou, maar hy het nie.
Wilmot se regsverteenwoordiger, Anlen Murray, het aan die hof gesê dat haar kliënt nie in ’n posisie is om die beleggers terug te betaal nie. – Lynn Williams