Belowende atleet betree weer die baan

“MY pa sê altyd dat ek my alles moet insit.”.


“MY pa sê altyd dat ek my alles moet insit.”

Dié is die woorde wat kranige Humansdorp-atleet Lee-Roy Brown (18) elke dag op die atletiekbaan aanpor.

Hy het sy eerste treë in die sportwêreld op die rugbyveld gegee, voordat ’n paar ernstige beserings hom twee keer oor sy keuse laat dink het.

Maar vir Lee-Roy is dit nou baie eenvoudig: dis nét atletiek vir hom.

“Ek het al my been en enkel tydens rugbyoefeninge en -wedstryde gebreek, en ’n oog-besering opgedoen. Asook ’n ligte besering aan my kniekop,” het die matriekleerder aan die Humansdorp Sekondêre Skool vertel.

“My pa het vir my gesê ek kan nie albei (rugby en atletiek) doen nie. Rugby hou te veel moontlikhede van beserings in. Toe sit ek my hart op atletiek.”

Hy speel steeds rugby op sy TV-speletjies.

Dit was egter nie net voorspoed vir die atleet nie.

Lee-Roy het verlede jaar baie goeie tye op die atletiekbaan aangeteken, toe hy skielik ’n besering aan sy dyspier opdoen.

“Hulle het eers gesê my hamstring was reg; toe gaan hardloop ek by die skool en toe trek hy weer. Ek het net daar platgeval. Ek kon nie verder hardloop nie.

“Ek was vir amper ’n jaar, van verlede jaar Augustus tot Junie vanjaar, buite aksie weens die besering.”

Intussen het hy sy afrigter se raad gevolg en sy bene sterker gemaak met gereelde oefening om verdere beserings te voorkom.

Buiten sy studies en die atletiekoef-ening, het Lee-Roy nie veel tyd vir stokperdjies nie.

“Ek hou baie van lees, maar net wanneer ek tyd het – en verkies Engelse sportboeke waaruit hy kan leer. Iets waarvan ek baie by die huis het,” het hy vertel.

Ná skool wil hy graag onderwys en sportwetenskap by Nelson Mandela Universiteit studeer.

“My hart is by sport. Ek het klaar besluit: ek wil graag Engels en Afrikaans by my oud-laerskool, die Kruisfontein Primêre Skool in Humansdorp, onderrig, en na-skool atlete touwys maak.”

Lee-Roy sal die kans om professioneel atletiek te doen, beslis nieafkeur nie.

“Met my atletiek wil ek graag anderkant die see gaan kompeteer. My groot droom is om tot by IAAF (Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies) te kom,” het hy gesê.

Lee-Roy sal in September vanjaar aan sy eerste atletiekbyeenkoms by die Hoêrskool Nico Malan in Humansdorp deelneem, sedert hy in Junie vanjaar weer begin hardloop het.

Die tweede byeenkoms vind vanaf 20 tot 23 September in Port Elizabeth plaas, gevolg deur nog ’n byeekoms in Potchefstroom.

Hy gaan sy staal in die o.19 100m en 200m wys.

Vir nou probeer hy sy bes om oor ’n paar struikelblokke te kom. Hy oefen meeste van die tyd in Jeffreysbaai waar hy ’n lid van Speedfit Athletics is.

“Ek moet elke middag daar (Jeffreysbaai) wees. Partykeer vat ek maar ’n hike. Ek het nou iemand wat ek in die middae betyds probeer vang vir ’n rygeleentheid. Ek moet jaag om hom te kry,” het Lee-Roy gesê.

Hy en sy pa, Elvin, is tans op soek na borgskap om Lee-Roy se loopbaan ’n hupstoot te gee.

Een van die uitdagings wat hom in die gesig staar is sy vervoer na oefeninge en atletiekbyeenkomste. Hy benodig ook ’n nuwe paar hardloopskoene (‘spikes’) en wegspringblokke.

“Ek oefen elke dag, al moet ek dit by die huis doen. As ek gaan oefen, dan gee ek dit my alles. Ek hardloop nou om die SA-span te haal.”

You need to be Logged In to leave a comment.