STILTE, vrede, rus en gasvryheid . . .
Tussen die Kouga-berge en groen valleie van die Gamtoosvallei, is ’n plek waar jy weer die kalmte in jou kop terugkry en die spanning uit jou skouers laat gly – Bergrivier, geleë in die hartjie van Loerie.
Dié perfekte plek om te gaan asemskep – weg van die stad se gewoel.
En om saam met bedreigde rooivin-vissies te swem, terwyl die kroonarend vanuit sy nes hoogkyk.
Wie weet, jy mag dalk net ’n bokkie of twee raakloop.
Bergrivier
Op die Woensdagoggend van ons kuier by Bergrivier, aan die voet van die Kouga-berge, kom eienaar Dorie Williams aangestap om te groet.
Netjies uitgevat. Nie ’n haar uit hul plek nie.
Agter haar lê die wêreld nog kol-kol swart en dooie boomtakke reik tevergeefs na bo. Plek-plek beur die groen gras deur die harde grond.
Die Junie-wegholbrand, verlede jaar het groot skade aangerig. Maar hulle was bevoorreg. Die brand is neffens hul huis gestop. Terugbaklei en baie genade van Bo.
Ek vra Dorie uit oor die plaas – die familieplaas behoort al sedert 1855 aan die Williams-fa-milie (vyf geslagte op die plaas) en spog met ’n familie-kerkhof waarvan die oudste graf uit 1864 dateer.
Sy glimlag: “Ek en my man, Japie, het gedurende die 1980s ongeveer 80ha grond van sy neef, Henry, gekoop.”
Maar wat maak mens met ’n klomp klipkoppe?
“Boer met mense in die ongerepte natuur, natuurlik,” sê sy.
So gesê, so gedaan.
Ons vra uit oor ons knus selfsorg-kliprondawel, Naguiltjie.
“Ons het versigtig optimisties – na baie gebede – met ’n rondawel begin om eers die mark te toets.
“Ons wou graag die natuur in die argitektuur inbring. Ons moes ook die aftreegeld versigtig gebruik . . .
“Ons het begin rondkyk en besef daar is genoeg natuurlike materiaal tot ons beskikking. Die rondawel is grotendeels van klip uit die river gebou. Die plafon is van riet en die dak van sement.
“’n Grasdak sal nie in die fynbos-area deug nie . . . al was dit my droom.”
Toe volg nog eenhede.
Stap
Na ’n vinnige koppie koffie, gaan verken ons een van die vele staproetes op die plaas: die 3km-watervalroete.
Die son brand warm op ons rug . . .
Oor die kampterrein en verby die begraafplaas.
Van hier volg ons die blou blokkies in die bome wat die pad aandui.
Buk-buk onderdeur die ruig plantegroei . . . dan weer al springend oor die rivierklippe – mooi trap.
Tot by die waterval met ’n diep bergpoel waar jy heerlik kan afkoel na die stap.
Kyk uit vir die klein rooivin-vissies – ’n bedreigde spesie wat slegs in ’n paar stroompies in die omgewing voorkom.
As jy tjoepstil in die water sit, sal die vissies jou vel mooi skoon suig.
En wanneer jy voor die waterval staan, loer oor jou linkerskouer na die kroonarend se nes in die groot geelhoutboom. Hy broei al vir jare hier – pak net elke jaar nog ’n klomp takke op die nes.
Natuurlewe
Die roete sorg vir genoeg roering vir al jou sintuie. Hier is drie biome op die paas: fynbos, vallei-bosveld en inheemse bos.
“Ons ontdek nog ‘nuwe’ plante waarvan ons nie geweet het nie,” sê Dorie.
Met 158 voëls op die lys, is Bergrivier ’n voëlkykerspara-dys.
Dan is daar die bokkies wat snags op die grasperk kom wei.
“Bosbokke is redelik volop, maar daar is ook grysbokkies en duikertjies, asook ander diere soos ystervarke, musseljaatkatte, bosvarke en erdvarke.”
By die rondawel
Terug by die rondawel sit ons die res van die middag luilekker op ons stoep oor die vallei en uitkyk.
Ons vuurtjie knetter vir tjoppies en braaibroodjies,
Ons kuier word een van rus.
Die Donderdagoggend drink ons vir oulaas koffie . . . dan is dit tyd vir huiswaarts keer.
As jy net ’n slag wil stilsit en die stilte om jou hoor, is daar geen beter plek om te wees nie.
Meer inligting
- Bergrivier beskik oor twee knus steenkothuise, een hout-huisie, twee egte ossewaens en ’n kampeerterrein. Al die akkommodasie is selfsorg.
- Daar is heerlike staproetes op die plaas: Watervalroete (3km), Fynbosroete (4km), en Oppi-Koppiroete (10km), Nguniroete (2km).
- Skakel Dorie Williams by 042 286 0694 of stuur ’n epos na japiewms@bergrivier.com.