'n Vrou wat sit met 'n ry biervulde glase.
Linky Kabot van die St Francis Brewing Co met hul gewilde biere. Credit: Veronica Fourie

Dis nie net gedurende die somervakansie dat mense heerlik kan kuier in die omgewing van St Francisbaai nie, maar sommer heeljaar.

Een van die juwele wat nie oorgeslaan moet word nie, is die calamari-koningin se calamari, vis en hoender van Laurentia George – ook bekend as Aunty Lau.

St Francis Toerisme het die media bekendgestel aan “Aunty Lau’s Lekker Fast Food Take Aways” in Sea Vista. Sy het nie verniet verlede jaar die trofee vir die beste calamari tydens die Calamari-fees verower nie. Haar kos is geurig, word mooi voorgesit, en smelt in die mond.

Maar dit het nie oornag gebeur nie. Sy het ‘n lang pad geloop met kosmaak voor sy die toppunt behaal het. “Ek het elke jaar ingeskryf, ek wou graag ‘n koskompetisie wen. Toe wen ek later die derde prys, en toe die tweede prys, en toe eerste prys!”

Sy het vyftien jaar lank as sjef gewerk by verskillende restaurante, toe sy haar werk verloor het tydens die COVID-19 pandemie.

Laurentia was op haar knieë: “Ek het die Here gevra vir leiding, en dinge het in plek begin val. Ek het mettertyd ‘n wegneem plek begin hier by my huis. Met een sak aartappels, hoender, tjops, souse, en paar bakkies en servette. Ek moes later na die garage toe skuif!”

Nou is Aunty Lau’s ‘n bekende plek op Sea Vista en buitelandse toeriste maak ‘n groot deel uit van haar gaste.

“Hulle bel van Holland en ander plekke en sê hulle het die resensies gesien. Die buitelanders hou die meeste van die calamari en chips, en die locals verkies weer die hoender en chips,”sê die gulhartige vrou.

Haar droom is om die besigheid verder uit te brei en werk te skep vir haar mense. Tans help haar dogter Devaruska haar in die besigheid, en haar man Derick sit ook hand by.

“Spanwerk en behoorlike higiëne is baie belangrik. Kosmaak is my passie! Die plek is al hersoneer, en ek wil dit nou graag meer aantreklik maak.” Oor werksure lag sy hartlik. “Van 9vm tot 9nm, en in die seisoentyd tot 1vm! “

Benewens calamari, vis, en hoender, is daar ook pap en bief, spaghetti en maalvleis en varkkotelette op die spyskaart.

Toeriste lig ‘n glasie by die brouery

Twee branderplankryers het sewe jaar gelede kom nesskrop op St Francisbaai. Hulle het hulle werkervaring by ‘n mikro-brouery in Duitsland en Amerika gebruik om hier ‘n brouery te begin. Hulle het ook ‘n groot liefde vir die fynbos van die omgewing en is betrokke by die bewaring daarvan.

Linky Kabot en haar man Lance het ‘n gesellige kuierplek gevestig, wat geïnspireer is deur hulle reise. “Lance is beseer tydens ‘n branderplankongeluk, en ons het met ons reise besluit om hier te vestig,” sê die bruingebrande vrou.

Benewens die drie besondere biere wat hier gebrou word by St Francis Brewing Co, bied hulle smullekker etes aan. Die ruimte word ook vir verskillende doeleindes aangewend.

Daar word musiekvertonings gehou, storievertelling, boeremark, groot skerm vir sport, verskeie sosiale funksies, en daar word selfs gereeld kerk gehou in die kroeg!

Toeriste leer gou dat die dorp se hartklop hier in St Francisrylaan is.

Aunty Lau by die trofee wat sy gewen het vir die beste calamari by verlede jaar se Calamari-fees. Sy gebruik bestaande resepte en maak dit dan haar eie.
Credits: Veronica Fourie

You need to be Logged In to leave a comment.