DIE dorp is steeds in rep en roer oor die gewaande sonde met die taxi’s wat verlede week ontbrand het nadat ’n bejaarde Jeffreysbaai-inwoner in die parkeergebied van die Fountains Mall deur ’n ongelisensieerde bestuurder met sy voertuig gestamp en erg beseer is.
Uiteenlopende menings vlieg oor en weer, maar daar is klaarheid oor seker aspekte van sake wat geopper word.
’n Gemeenskapsgroep het verlede week met sentrumbestuurder Sonja Allsop en andere vergader. Die publiek en besoekers se veiligheid en insidente met taxibestuurders, asook die moontlike implementering van stra-tegiese oplossings, is bespreek.
Die bestuurder het versoek dat die voorgelegde taxi-verwante kwessies skriftelik gerig moet word.
Wat wel belig is, is dat stewige stappe reeds gedoen is om die oortreders hok te slaan.
Vroeër vanjaar het Britz Attorneys ‘’n finale hofbevel bekom waarin ge-stipuleer word dat slegs geregistreerde operateurs van die Humansdorp Taxi Association met lisensies van en op vasgestelde roetes deur die provisiale Departement van Vervoer in die Kouga Munisipaliteit mag werk.
Hierdeur kon die Ncedu Service Taxi Association verbied word om parkeerareas van die plaaslike en Shoprite-sentrum op Humansdorp onwettiglik as taxi-punte en staanplekke te gebruik.
Die probleem blyk nie die geregistreerde bestuurders te wees nie, maar die “sweepers” wat passasiers vinnig opraap waar hulle ook al staanplek sien. Dit is glo ook die ongelisensieerdes wat amok maak op die paaie.
Volgens Allsop kan die bestuur van Fountains Mall bevestig dat ’n toegewyde taxi op- en aflaaisone met ’n aparte ingang- en uitgangspunt na 18 suksesvolle onderderhandelinge met die burgemeester, die Kouga-munisipaliteitspan, en die Humansdorp Taxivereniging deur al die betrokke partye op Woensdag, 18 September aanvaar is. .
“Ons doel is om almal in die gemeenskap te ondersteun en die veil-igheid van ons kliënte te verseker,” sê Allsop.
Kouga Gemeenskapsdienste-portefeuljeraadslid Daniel Benson, sê: “Die Kouga-munisipaliteit het ’n regsmening verkry wat bevestig dat ons wel teen diegene wat die verkeerswette by Fountains Mall oortree, kan optree.
“Die munisipale verkeersdepartement sal dus gereeld by die sentrum wees, om te verseker dat taxi’s binne die wet optree.
“Twaalf boetes wat tesame R14 700 beloop, is verlede week aan taxidrywers uitgereik.”
Chris Scott het in ’n skrywe oor die toepassing van regulasies geopper.
Hy beklemtoon dat die reëls wel in plek gestel is – wat beteken dat die sentrumbestuur wil toon dat hulle omgee en die situasie wil oplos.
Hy vergelyk die huidige stand van sake met ’n hond wat byt sonder tande. “Geen regulasies sal werk as dit nie toegepas word nie.”
“Ek het ’n konfrontasie met ’n taxibestuurder gehad wat my byna omgery het. Skielik was daar drie ander bestuurders om my. Dit is verstaanbaar dat die sekuriteit nie graag in so ‘n potensiële geveg wil beland nie. Maar dit neem daadwerklike optrede om die wet effektief toe te pas.”
In ’n brief aan die Kouga Express skryf ’n inwoner onder die skuilnaam, Anti-taxigeweld, oor al die reeds-gemelde oortredings van verkeersregulasies deur die gewraakte taxibestuurders. Hy noem verder dat “dit verder opmerklik is dat die taxibestuurders kortpaaie kies deur op sypaadjies te ry, deur vulstasies te jaag asook deur die parkeerarea van die winkelsentrum in Da Gamaweg met min of geen inagneming van voetgangers”.
Hy eggo padgebruikers deur te hoop dat daar in die toekoms ’n beter gedragspatroon tevoorskyn sal kom wat tot elkeen se voordeel sal wees en dat verkeersowerhede hulle meer sal toespits op die gedrag van die taxibestuurders.