’n 67-jarige inwoner van Astonbaai is in die hand gewond toe drie inbrekers, van wie een gemasker was, om ongeveer 01.30 verlede Donderdag by haar en haar 70-jarige man se huis in Dolphinrylaan ingebreek en haar met messe toegetakel het.
Die vrou wat nie hul name gepubliseer wil hê nie, het gaan ondersoek instel toe hul alarm vroeg die oggend ’n waarskuwingsein gegee het, maar nie afgegaan het nie weens ’n kragonderbreking.
Toe sy in die sitkamer op die diewe afkom, het hulle haar teen die grond geslinger en met ’n mes begin steek. Hulle het haar met soveel geweld aangeval dat haar een tand afgebreek het. Sy het gegil, probeer om die mes met haar hand af te weer en het ernstige wonde aan haar vingers opgedoen.
Haar seun het kom help, maar hulle is albei deur die mans gedreig en na die egpaar se slaapkamer gedwing. Daar het hulle al drie met ’n rewolwer teen die kop en messe aangehou en die kluis se sleutels geëis. Hulle het ’n .22 pistool (ou erfstuk), twee Samurai-swaarde, selfone, ’n skootrekenaar en juwe-liersware geroof. Daarna het hulle die res van die huis deursoek en laat spaander.
Terug in die slaapkamer het die ouer man (wat met krukke beweeg) ’n rewolwer wat versteek was, uitgehaal. Die een inbreker het intussen teruggekeer, die voordeur oopgedwing en teen die slaapkamerdeur kom hamer, waarop die vader van die huis twee skote deur die deur geskiet het. Dit het die man verjaag en hy het gevlug.
Die plaaslike polisie is na die huis ontbied, waar hulle vingerafdrukke by die venster op die boonste vloer en elders opgespoor, en ver-klarings afgeneem het. Hulle het die erf deursoek en buite op die sypaadjie op twee selfone afgekom wat die diewe in hul haas laat val het.
’n Woordvoerder van Astonbaai-buurtwag wys daarop dat inwoners nie paraat genoeg is nie. Volgens hom vind lede van die buurtwag tydens nagtelike patrollies dat huisbewoners met oop patio-deure en vensters slaap. Een Astonbaaier het Donderdagmiddag erken dat hulle saans nie eens hul deure toemaak nie.
Die polisie versoek veral tweedehandse-ware winkels om uit te kyk vir die gesteelde goedere. Enigiemand met inligting kan die SAPS Jeffreysbaai kontak by 042 200 6800 of by die Crime Stop-nommer 0860 10111.