BloemNuus

Bloemfonteinse meisie (6) sterf weens griep

‘n Pragtige, lewenslustige kleuter is die week in Bloemfontein oorlede aan komplikasies weens griep.

Klein Jana Hough (6) wat Donderdag weens komplikasies weens griep in Bloemfontein oorlede is. Credit: Verskaf

‘n Lewenslustige voorskoolse sesjarige Jana Hough is Donderdag aan komplikasies weens griep in die Bloemfontein Mediclinic se intensiewesorgeenheid oorlede.

Jana, ‘n leerling van Willem Postma Pre-primêre skool, was Maandag nog by die skool, maar sy is later huis toe omdat sy verkouesimptome gehad het.

Haar ma, Aneldi, sê Jana se toestand het binne 24 uur vinnig versleg en sy is in 3 Militêre Hospitaal opgeneem. Haar toestand het bly verswak en sy is na die Bloemfontein Mediclinic oorgeplaas.

Marzaan Booyens, skoolhoof van Willem Postma Pre-primêr, sy ken die familie reeds vandat Jana se boetie, Alexander, hier op skool was. Sy sê Jana was ‘n lewenslustige dogtertjie.

Aneldi sê Jana was lief om dinge te doen. “Sy het kettie geskiet, sy was in die Voortrekkers en sy was mal oor ballet. Ons het hierdie afgelope twee dae eers besef watter reuse-impak Jana op die mense om haar gehad het. Sy was kosbaar.”

‘n Lewensviering word Woensdag om 11:00 vir Jana by die Baptiste-kerk in Langenhovenpark gehou.

Aneldi sê dit gaan ‘n viering wees met alles waarvan Jana gehou het soos balonne en strikkies.

Sy laat benewens haar boetie en ma, ook haar pappa, Hannes, na.

You need to be Logged In to leave a comment.