MET die Kougadam se vlak wat steeds in ’n onrusbarende tempo daal, is boere van die Gamtoosvallei onseker oor wat hul volgende oesjaar gaan oplewer.
Altesame 132 boere maak staat op ’n jaarlikse waterkwota uit die Kougadam wat deur die departement van waterwese aan hulle toegeken word.
Die vlak van die dam, wat ook water aan die Kouga-munisipaliteit en ’n gedeelte aan die Nelson Mandelabaai-metro voorsien, het die afgelope week op 12,13% gestaan.
Besluite oor die watertoekenning vir die nuwe waterjaar, wat op 1 Julie begin, is gegrond op die dam se watervlak van 1 Mei.
Rienette Colesky, uitvoerende hoof van die Gamtoos-besproeiingsraad, sê die dam is die boere se enigste waterbron.
Geen alternatief
“Daar is eintlik nie ’n alternatief nie. Ons as boere in die Gamtoos het die Kougadam en ons is afhanklik van die water in die dam. Die Kougadam is afhanklik van die reën wat val in die Langkloof, wat die opvangsgebied is, en dit is baie droog daar. Dit is kommerwekkend om te sien daardie damme is ook droog.”
Vir 2019 se waterjaar, wat Junie tot ’n einde kom, is boere 85% van hul waterkwota toegeken.
Colesky sê teen einde Maart het die verbruikers 15% minder as hul 85%-toekenning gebruik.
“Dit dui daarop dat die boere deeglik bewus is van die situasie en van hulle kant af word water spaarsaam gebruik.”
Wat ook bygedra het tot die afname in waterverbruik, was goeie reënval wat die distrik in die eerste twee maande van die jaar gekry het.
Colesky sê dit is moeilik om te skat wat hul beperking vanjaar kan wees, maar noem dat daar in 2018, terwyl die dam se watervlak op 10% was, 20% se water toegeken is.
“Dit is ’n realistiese benadering. Maar wanneer die modelle gebruik word om die kwotas toe te ken, beteken dit nie dieselfde omstandighede geld vandag wat in 2018 in ag geneem is nie.”
Sy bestempel ’n 20%-watertoekenning as ’n uiters moeilike situasie vir die boere, wat waarskynlik slegs minimale groenteaanplantings sal beteken.
“Ons is reeds op ’n punt waar baie van die kleiner groenteprodusente opgehou groente plant het. Net die groter groenteboere, wat kontrakte met supermarkte het, plant nou.
“Die meeste hier is sitrusboere en om ’n lemoenboom op ’n 20%-toekenning te probeer deurkry, gaan baie moeilik wees. Dít is die situasie aan die bokant van die vallei, maar in Mondplaas is daar baie melkboere wat in ’n nog groter penarie is om weiding aan die gang te hou.”
Hoewel daar water is tot einde Junie vir die oes wat nou aan die bome is, is dit die volgende jaar se oes wat in die weegskaal hang.
Waterverliese
Werkverliese is ook ’n kommerwekkende werklikheid.
“As jy (die seisoen) ingaan met ’n kleiner oes, gaan pakhuise nie op volle kapasiteit loop nie, want die oeste is kleiner en minder mense gaan nodig wees om te pluk.”
Die water word volgens Colesky op die ontleding van historiese data en ’n vooruitskouing van klimaat toegeken.
Die departement gebruik ’n model om vooruit te skat hoeveel water ’n dam kan lewer oor die volgende waterjaar eerder as net die hui-dige watervlakke.
Die metro, wat uit die Churchill-, Impofu- en Groendaldam, asook die Nooitgedacht-waterskema, water kry, sal op ’n vol kwota 23 miljoen kubieke meter water per jaar uit die Kougadam kry.
Boere kry 60,188 miljoen kubieke meter water.
Hoewel die boere al twee jaar met ’n 40%-watertoekenning moes klaarkom, sê Colesky die beste opsie is altyd ’n 100%-watertoekenning.
“Bygesê, die department kan net toeken wat beskikbaar is. Die raad vertrou die model wat die department gebruik en dit was nog altyd ’n goeie manier om die waterbron te beskerm.
“Die boere maak maar ’n plan om uit te kom aan die ander kant van ’n droë waterjaar, maar dit is nie maklik nie,” sê Colesky.