Die voortbestaan van plaasskole is toenemend in die weegskaal, wat veral plaaskinders raak. Hulle is baie afhanklik van die hulp van die boeregemeenskap, veral as dit by vervoer en skoolbenodigdhede kom.
‘n Groep aangrensende eienaars rondom Zuuranys het ‘n Bewaria gestig om saam te werk vir die bewaring van hulle gebied – veral met betrekking tot die fauna en flora van die area. Daar is 24 sulke bewarias in die Oos-Kaap.
Die voorsitter van die Zuuranys bewaria, Volla Verwey sê dié gebied beslaan 43 000 hektaar, met drie plaasskooltjies.
“Ons wil hulle graag ondersteun. Die skooltjies is afgeleë. Dis moeilik om onderwysers daar te kry, en dikwels spring die boere se vrouens in om te help skoolhou. Die kindertjies geniet die skoollewe op die plaas. Op ‘n sekere stadium moet hulle groot skool toe gaan op Kareedouw. Ons wil graag help om die skooltjies te bewaar,”sê Verwey.
Hulle beoog om een skool per jaar by te staan. Na ‘n behoeftebepaling, het hulle begin deur skryfbehoeftes aan die Boplaas Primêre Skool te oorhandig.
“Die skole se bestaan word bedreig. Ons wil graag help om die outjies ‘n goeie wegspring te gee,” sê Verwey.
Skoolhoof Marina du Plessis verwelkom die hulp en ondersteuning. “Dis moeilik om met beperkte hulpmiddels en skryfbehoeftes oor die weg te kom.Ons moet voortdurend planne maak. Ons stel dié hulp hoog op prys!”
Bewaria wil ook die oribi hervestig
Verwey sê hulle wil ook graag die oribi in die omgewing hervestig. Dit is een van hulle projekte, hoewel dit baie duur is. Die oribi is ‘n klein bokkie wat in die Oos-Kaap aangetref word. Dit is effens groter as die steenbokkie. Met die uitbraak van bek-en klouseer, is daar kwaai toegangsbeheer.
Die lede van die Bewaria sit ook hand by met die verwydering van indringerplante soos die swartwattel (Acacia mearnsii).
Nog ‘n projek is die beheer van predatore met veral die hulp van honde. “Ons sal help met kostes vir die honde se kos, want dit is ‘n groot ekstra uitgawe vir boere. Sodoende ondersteun ons ook teen-stroping,”sê Verwey.

You must be logged in to post a comment.