Martha De Jager het oor die jare haar kosbare resep met haar twee seuns, Danie en Phillip, gedeel. Dié het weer die geheim aan klein Danie, Phillip se seun, oorgedra.In 1989, meer as ses dekades later, verkoop die De Jager-gesin die slaghuis aan Miekie Strydom (foto) – met die worsresep op die koop toe. Foto’s: argief


DIE legende is dood, maar die wors leef voort.

Dít is die benadering wat Danie Strydom – seun van die legendariese worsmaker, Miekie Strydom, en eienaar van Kareedouw-slaghuis – volg.

Die slaghuis, wat in 1926 sy deure geopen het, spog vandag met van die beste boerewors in Suid-Afrika.

Die geheim van die watertandlekker-boerewors wat wyd en suid bekend is?

Volgens Danie het verskeie mense hul lewens aan die wenresep gewy, wat bykans ’n eeu terug dateer: eers die De Jager-familie, gevolg deur die Strydom-gesin.

“Tydens die winter-slagtyd van die beeste en varke op hul plaas, het Martha de Jager haar eie spesiale mengsel van boerewors-speserye beproef en verfyn.

“Met die oopmaak van Kareedouw-slaghuis ’n paar jaar later, was sy slaggereed met haar trefferresep – ’n bietjie-van-die en ’n bietjie-van-daai.”

Vakansiegangers, wat van heinde en ver na die Tsitsikamma-kus gestroom het, het die woord soos ’n weghol-veldbrand versprei: “Kareedouw maak die lekkerste wors”.

De Jager het oor die jare haar kosbare resep met haar twee seuns, Danie en Phillip, gedeel. Dié het weer die geheim aan klein Danie, Phillip se seun, oorgedra.

In 1989, meer as ses dekades later, verkoop die De Jager-gesin die slaghuis aan Mie-kie Strydom – met die worsresep ingesluit.

Danie lag: “Dit is nie net ’n eenvoudige proses van gooi bietjie vleis deur ’n meul en stop dit in ’n derm nie – dit is ’n noukeurige proses.”

Net die beste vleis word gebruik – met net die regte hoeveelheid vet. Die water vir die spesery-mengsel moet die regte temperatuur wees en die lemme van die meule skerp.

Jy moet die speserye ruik – die Oosterse geure moet uit die menger opslaan en die lug vul.

Dan weet jy: hier is weer ’n wenner.

Die laaste stukkie kuns lê by die stop van die wors. Nie te styf nie, dan bars dit op die vuur. Maar ook nie te slap nie – dit moet net reg wees.

Fyn bestuur en ’n skerp oog geld by dié wors-maakproses.

Deur die jare het Miekie, en na sy dood, sy seun, Danie, dié proses soos ’n goed-bewaarde geheim opgepas.

En so word Kareedouw se naam 94 jaar later steeds hap-vir-hap met die heerlikste wors versprei – plaaslik asook nasionaal.

Miekie Strydom gaan ook by die Wors en Karrie fees wees.Foto: Werner Hills

Worsfees

Allerweë is ook na Miekie verwys as die worskoning – die man wat die jaarlikse worsfees na Kareedouw gebring het – wat onder meer die kompetisie vir die beste boerewors insluit.

Hy het dié kompetisie in 2003 begin nadat hy vir die hoeveelste keer ’n tevrede klant hoor vra het: “Waar in Suid-Afrika kan ek lekkerder wors as joune kry?”

Miekie het nooit die boerewors van sy eie slaghuis ingeskryf nie, “want ek weet mos dis die beste – ek soek net naaswenners,” het hy destyds nog skertsend opgemerk.

Die gewilde fees, wat in Augustus 2014 vir die laaste keer feesgangers vermaak het, het verskeie top-boerewors opgelewer, onder meer die van Charl Roux van Tsitsikamma, Suzette Viljoen van Humansdorp en Olivier Kritzinger van Joubertina.

Kritzinger het met dié resep die wentitel tydens die 2016 Shoprite/ Checkers Championship-boereworskompetisie opgeraap.

’n Bosbok

Voormalige skoolhoof Henk Brand vergelyk Kareedouw met ’n bosbok: vir sy grootte is hy die sterkste en dapperste.

“Watter ander klein dorpie in die Oos-Kaap toon vooruitgang, rig nuwe huise en geboue op, teer strate, lê sypaadjies en brei uit?” vra Danie.

“Dan is daar nog die mooi berge en blou, blou lug.

“Sowaar, Kareedouw is ’n bosbok.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article