HAAR rumatiekhande lê magteloos op die tafel en die oë swem in die trane.
Al wat sy vra, is vir ’n huis om in te bly – sonder gate in die dak, gesplete stutpale, vloerplanke met gleuwe tussenin. Die huis waarvoor sy reeds betaal het, is ’n onbewoonbare wrak.
Amanda van Loggerenberg (bykans 67) van Jeffreysbaai vertel: “Ek het ’n advertensie gesien op sosiale media vir ’n ‘plot en plan’ vir R430 000. Die erf is ook van die bouer aangekoop.
En laasgenoemde is presies wat die bouer, Klarissa Swart, onderskryf, maar sy en haar bouer-pa, Christo Swart, benadruk dat bouwerk aan die huis nié afgehandel is nie. Die boumateriaal vir die volgende fase lê in hul kantore.
Van Loggerenberg sê sy het ’n boukontrak met Cosy Cabin Homes aangegaan wat volgens haar prokureur, Ronel Grové, nie ’n regsentiteit is nie.
“Op 21 Oktober 2019 is die geld inbetaal, en die bouer het gesê dit neem vier tot ses weke dan is die huis klaar. Ek het besluit om na my kinders te gaan vir ’n maand, want as ek terugkom, is my huis mos klaar,” vertel Van Loggerenberg.
Sy sê toe sy in November 2019 in Wavecrest terugkom, is daar nog niks te sien nie. “Teen die einde van November sê die bouer ek moet eers die erf skoonmaak en ’n ‘skip’ van R3 600 huur.”
Swart (jr) vertel dat “die tannie baie opgewonde na haar gekom het” nadat ’n vorige bouer haar blykbaar ingedoen. “Ek het vir haar omtrent al my wins afgeskryf om teen byna kosprys ’n huis te bou.”
Volgens die bouer moes hulle op 1 November eers begin bou het. Die gelde is glo later inbetaal as wat ooreengekom is, maar “ons het solank met die werk begin.
Toe die betaling sloer, al was die vloer reeds gelê, het ons vir ’n dag eers aan ander projekte bestee, en toe teruggekeer,” verduidelik Swart (jr).
Teen daardie tyd het Van Loggerenberg op resultate aangedring, want die erf was volgens haar nog nie eers geregistreer nie. Aldus haar prokureur moes sy druk op die oordragsprokureurs plaas om dringend aandag aan die transaksie te gee, en “na een verskoning op ’n ander vir die vertraging gegee is, is die erf eers in Julie 2020 geregistreer – ’n hele 9 maande later vir ‘n kontantkoop.”
Swart (sr) voeg by dat dit nie voor die deur van die bouer gelê kan word nie, aangesien alle gelde in ‘n trust inbetaal word.
“Die kontrak maak uiteraard voorsiening vir vertragings in geval van werkerstakings asook weerstoestande,” sê Swart (jr). “Om nie eers van die bouers se Desember-sluitingstyd te praat nie.”
Die bouer sê die huis was dakhoogte teen die Desember-sluiting, maar dat hulle in daardie stadium eindelose probleme ervaar het om die SABS-goedgekeurde materiaal te bekom.
Van Loggerenberg sê sy het persoonlik gaan vasstel dat haar bouplan teen Januarie 2020 steeds nie geregistreer was of dat water/elektrisiteit en dienste nie aangesluit is nie. Toe Van Loggerenberg daarna vra, het die bouer glo vir haar per selfoon op ’n stemnota gesê “die munisipaliteit soek omkoopgeld.”
In Januarie het die werkers begin staak, sê Swart (jr). Maar na ’n verhoging in mid-Januarie weer weggetrek. Gevolg deur die COVID-19 pandemie in Maart. In Februarie 2020 het Van Loggerenberg ferm geraak en gesê sy as pensioenaris, kan nie nog huurkostes en stoorgeld bekostig nie. Die plek moet klaar.
Mooi beloftes
Sy het haar prokureur gaan spreek, wat die situasie oorgeneem het. Grové: “Dié bouer is etlike kere op terme geplaas, maar het telkemale met ‘mooi beloftes’ gekom.”
Van Loggerenberg sê: “Die bouer het versoek dat ’n bedrag vir bouplanne en vir water en ligte- en rioolaansluiting in die agentskap se rekening betaal word, maar was reeds teen 21 Oktober 2019 betaal. Sy sê die elektrisiteitstoevoer is eers op 23 Julie 2020 laat aansluit.
Van Loggerenberg sê Swart (sr) het gewaarborg alles sal binne twee weke afgehandel wees as sy R46 000 betaal, ’n bedrag wat teruggehou word vir kostes na inspeksie (snag list). Dié gelde was wel by die bouers se prokureur, maar Van Loggerenberg moes oorbetaling goedkeur.
Uiteindelik, na vele regsversoeke, het Van Loggerenber se span ‘n ultimatum gestel dat die huis teen 7 Augustus vanjaar voltooi moet wees, en is die laaste bedrag van R46 000 (“weens desperaatheid”) aan die bouer oorbetaal, maar teen die advies van Van Loggerenberg se prokureur.
“Teen middel-Augustus het die bouer nog nie haar opwagting gemaak nie, maar het aan ’n ander vrou se huis begin werk.”
Volgens die prokureur het die bouer by navrae gesê: “Die ander huis kry voorkeur.” Hulle gaan eers die werk daar voltooi vóór hulle haar kliënt se huis klaarmaak. My geld is nou klaar. My meubels is al vir nege maande gestoor; ek moet in ‘n klein plekkie bly, en dan nog leef,” kla die kliënt. In daardie tyd het sy by ’n sosiale mediagroep vir hulp aangeklop.
Sosiale media
Die media het gegons. Uitroepe van “skande, skokkend, gewetenlose uitbuiters, noem-die-naam, beskerm die weerlose bejaarde . . .” het opgegaan. Foto’s wys die “brouwerk” in volkleur. Mense het mekaar genooi om na die “krot” te gaan kyk, waar die vloer glo wieg as mens loop.
Die kliënt se prokureur het die proses gestaak weens “kontrakbreuk”, maar die Maandag daarna was die werkers by die huis besig om dakplate te lig om skynbaar ’n seëllaag aan te bring. “Ons moes hulle verwilder. Dit het die plate vol gate gelaat. Die Dinsdag het die polisie hulle kom wegjaag,” verduidelik Van Loggerenberg. Maar die kat kom weer, en Woensdag was hulle besig.
Die sosiale media platform het weer geroer toe werkers opdaag, oor die geslote hek klim om ronde “slabs” te verwyder om by ’n ander huis te laat gebruik. Van Loggerenberg en haar sosiale media-beskermer is polisie toe, waar hulle ‘n verklaring afgelê het. Soos belowe, het die polisie later (na die EFF/Clicks-drama) opgedaag en die situasie ontlont.
Volgens Van Loggerenberg het die bouer haar aangeraai om vir haar ‘n “beter prokureur te kry wat iets van die wet weet”.
Laasgenoemde het ’n onafhanklike ingenieursfirma genader wat verslag lewer dat die struktuur hoegenaamd nie aan die Nasionale Bouregulasies of aan die SA Code for Timber Frame Buildings voldoen nie.
Volgens hulle sal aansienlike regstellings moet kom voor dit goedgekeur kan word.
Swart meen dat ’n onvoltooide huis nie gemeet kan word aan die finale produk nie. “Die vorige fase is afgeteken, en ons moes aangaan, maar ons word daar weggejaag.”
Pad vorentoe
Die pad vorentoe? Van Loggerenberg sê sy moet nou ’n kwotasie kry om die huis bewoonbaar te maak. “Ek het dit nie. My geld is op, en my huis is stukkend. Ek weet nie wat om te doen nie,” sê sy hulpeloos.
Beide die bouers dring aan dat hulle haar uitgenooi het om om ‘n tafel te sit en die geskil op te los. Ná ’n onderonsie by die huis met die junior bouer was Van Loggerenberg verbaas toe ’n speurder by haar aanklop om haar van ’n saak van aanranding teen haar te verwittig.
Die bouer het blykbaar die perseel betree, waarna die eienaar haar versoek het om te gaan. Toe sy weier, het die bejaarde vrou haar ten aanskoue van getuies “‘n stootjie gegee” en gesê sy moet “loop”.
Swart (jr) bevestig sy het ‘n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak.