‘Bouwerk in Maart vanjaar voltooi’

DIE Sarah Baartman-sentrum van R164 miljoen, wat veronderstel was om ’n bemagtig- ingsprojek vir die inwoners van Hankey te wees, sloer al vier jaar.


DIE Sarah Baartman-sentrum van R164 miljoen, wat veronderstel was om ’n bemagtig- ingsprojek vir die inwoners van Hankey te wees, sloer al vier jaar.

Die Departement van Openbare Werke in die Oos-Kaap hanteer die bouwerk namens die departement vir kuns en kultuur.

Die doel van die sentrum is om hulde te bring aan Sarah Baartman, werk te skep en die plaaslike ekonomie van Hankey ’n hupstoot te gee.

Met die aanvang van die projek is belowe dat 1 000 werkgeleenthede tydens die konstruksiefase geskep gaan word, en dat 134 mense ná voltooiing van die sentrum ’n permanente werk sou kry.

Inwoners van die dorp sê hulle is teleurgesteld, want hulle moes al lankal gebaat het by die positiewe uitwerking wat die sentrum op die dorp sou hê.

Die dorpenaars het nou alle hoop verloor dat die sentrum ooit sy deure sal open.

Malcolm Figg, leier van die DA in die Tsitsi-Kouga-streek, sê van die inwoners wat op die projek gewerk het, is afgedank en ander staak weens ’n loongeskil.

“Die onluste as gevolg van die wanbetaling van werkers en die aanstelling van ’n nuwe kontrakteur is van die redes waarom die projek vertraag is.

Die departement se nuwe beoogde voltooiingsdatum in Maart is duidelik net ’n droom.”

Die perseel is op 23 April 2014 aan Lubbe Construction, wat die tender gekry het, oorhandig. Die kontraktydperk was vir 30 maande en die sentrum moes op 14 Oktober 2016 voltooi gewees het.

Siyabonga Jikeka, waarnemende direkteur van die nasionale departement van openbare werke, sê die bouwerk het goed begin, maar bestuursprobleme het binne die maatskappy ontwikkel.

Dit het gelei tot kontantvloeiprobleme wat die verskaffing van boumateriaal, wat intussen ook duurder geword het, geraak het.

“Die kontrakteur het agter geraak met die werk. Ondanks vele waarskuwings het dit duidelik geword dat die projek nie betyds voltooi gaan wees nie.”

Lubbe Construction het op 21 September 2017 ’n ooreenkoms met Transtruct (Edms.) Bpk. onderteken om die sentrum te voltooi.

Die projek is met 11 maande verleng en daar is op ’n nuwe voltooiingsdatum van 22 Oktober 2018 ooreengekom.

“Die versoek om die voltooiingsdatum te verleng is einde verlede jaar ontvang. Die nuwe datum is nou Maart,” sê Jikeka.

  • Sarah Baartman was ’n Khoi-vrou wat in die 1800’s in Europa as ’n rariteit uitgestal is en wie se oorskot ná ’n uitgerekte stryd na Suid-Afrika teruggebring is en in 2002 op Hankey begrawe is.

You need to be Logged In to leave a comment.