’n OPGEKNAPTE hartbeeshuisie steek ‘blink’ kop uit tussen welige bome toe ons stadig met die grondpad aangery kom – half verskuil agter die hoofhuis, eens ’n vervalle skuur.
Die Tsitsikamma-berge staan fier op die agtergrond. Paddas kwaak lustig in die leivoor, lammers roep dors na hul ma’s.
En ’n swart kleindorpie-kat loer skuins om die huis. Hy kom eers weer later die aand terug toe alles stil is.
Ons stop by die plaashek neffens die groen Kranzig-bordjie – maak oop en ry deur.
Hier, op die plaas, Kranzig, in Tweeriviere – geleë tussen die Dieprivier en Dwarsriver – groet Jolly Roger-akkommodasie eienaars Suenette Kruger en Jimmy Kruger.
Ons moet gou afpak – ontbyt is ge-reed. Ons is vooraf gewaarsku om honger te kom.
Ek vra oor die plaas.
Jimmy beduie heuwel-op verby die hartbeeshuis: “Een van die eerste Kranzig-eienaars het van ’n imposante huis bo-op die koppie gedroom. Vandag is daar net ’n murasie van ’n klipmuur en swembad wat gereeld vol ondergrondse water is – maar nie genoeg om in te swem nie.
“Hier word nog met die leiwaterstelsel van die 1800’s gewerk: water vloei vanuit die Grootrivier in vore na die hele dorp.”
Daar is twee hartbeeshuisies, elk opgeknap in ’n rusplek waar vier mense kan oornag. Kompleet met ’n houtdek wat oor die berge en rivier (in die verte) uitkyk, en ’n stoep waar jy jou oggendkoffie (of glas wyn) kan geniet.
Regdeur die huis is grepe nostalgie vasgevang: van die wiegstoel tot die vleismeul, asook die swart koolstoof en portret teen die muur.
’n Plek vol rustieke sjarme.
Suenette glimlag breed: “Ons wou ’n ruimte ontwerp waar besoekers hul skoene kan uitskop en ontspan.”
En dit is presies wat hulle reggekry het.
Maar hoekom die naam Jolly Ro-ger?
Suenette verduidelik trots: “Jimmy was vir meer as vier dekades ’n seevaarder – sy passie.”
Na ontbyt pak ons die 60km-roete bergop met ’n viertrek-voertuig tot by hulle ‘berghuis’ aan – plank-vir-plank self gebou, al het dit bloedsweet en twee jaar se harde werk gekos.
Die 4×4-roete is oop vir besoekers aan Jolly Roger, maar wees gewaarsku: daar is ’n paar nou paadjies en steil opdraandes met los klippe.
Verby die houthuis neem die kronkelpad jou tot by die rivier. Dié droogte het hier ook sy tol geëis. Die eens bruisende rivier is ’n rustige stroom.
Die wat kans sien vir die stamp-en-klou roete, word met ’n pragtige uitsig oor die hele kloof beloon.
Beslis die moeite werd.
Tyd vir terugdaai – maar eers stop ons vir een van die lekkerste pasteie in Joubertina.
Terug by Kranzig skop ons skoene uit. Ek ontspan op die stoep, terwyl die son sak.
Wanneer die laaste strale agter die berge verdwyn en die donker soos ’n mantel oor die werf val, is dit asof die stilte jou ore laat tuit. Ek verkyk my aan die duisende sterre wat skielik so naby voel.
Plaasstal
Die volgende oggend besoek ons die Jolly Roger-plaasstal, 2km van Kranzig, en ’n koffiewinkel waar gaste ligte maaltye en heerlike gebak kan geniet.
Dit dien ook as ’n geskenkwinkel en mark vir vars groente en kruie wat hulle op die perseel groei.
Jimmy het die plaasstal – kompleet met mas en houtstuur – eiehandig gebou.
Staproete
Dan is dit tyd vir die groot stap op die plaas, Nooitgedacth, wat op Langklip Estate (’n natuurbewaringsgebied) geleë is.
Vol bravade en ’n sambreel vir die son (ons het sonblok en ’n hoed vergeet) volg ons die plaaspad tot by die begin van die 3.4km-staproete.
Oral is welige plantegroei en kogge-lende voëls.
Ek loer versigtig rond – daar is nog luiperd in die gebied.
Skielik toring ’n klipstapel (nie-mensgemaak) voor ons op: die 27m-hoë langklip.
’n Dapper stapper het die steil klim na bo aangepak. Sy hemp wapper trots in die wind.
Ons beweeg voetjie-vir-voetjie verder: oor bulte, bo-oor boomstompe, onderdeur rivier-reuse en gly-gly oor groot rotse.
Aan die einde, maak die rivier voor ons oop. Die natuurprag laat ons vinnig van ons moeë bene vergeet en maak alles die moeite werd.
Dan is dit tyd vir terugstap.
Nog aktiwiteite
Ander doendinge sluit in kloofklim en bergstap by Nooitgedacht – adrenalien-verslaafdes moet hul eie toerusting bring – terwyl bergfietsryers die uitdagende 60km-bergpad kan aanpak. Die roete is egter nie vir die onfikses bedoel nie.
Lafenis – kos en eetgoed – sal by Berghuisie (die huis van die Krugers bo-op die berg) aangebied word, indien vooraf gereël.
Voëlliefhebbers kan hulle verkyk aan die groot verskeidenheid voëls wat hier voorkom. Die pragtige landskap dien ook as ’n lushof vir fotograwe.
) Waar: Tweeriviere, ’n geskiedkundige dorp met plattelandse, ouwêreldse bekoring net buite Joubertina.
- Verblyf: Twee vrystaande hartbeeshuisies (Pansy en Duck and Dolittle) met slaapplek vir vier gaste. Die huisies is slim ingerig en bied alles wat jy nodig het. Die kombuis is volledig (yskas, oond, ketel en mikrogof), en jy hoef geen eetgerei saam te bring nie.
Bring net jou eie kos en drinkgoed.
Buite op die ruim stoep is daar plek vir braai (onder die sterre).
- Inligting:www.jeffreysbaytourism.org/member/jolly-roger
- Kontak: Suenette Kruger by 063 298 8310 of Jimmy Kruger by 083 659 4180. Stuur ’n epos na suenette.erasmus@gmail.com of of kruger.jimmy@gmail.com.
- Foto’s: Sien die Kouga Express Facebook-blad vir foto’s.