Teen hierdie tyd het die meeste mense vrede gemaak met die feit dat COVID-19 nie vinnig iets van die verlede gaan wees nie. Toe die pandemie ons in 2020 tref, was die eerste reaksie om troues uit te stel, maar dit raak al hoe moeiliker, soos wat mense besef dat ons waarskynlik nie in die nabye toekoms groot groepe mense bymekaar sal mag wees nie.
Joané Azenha het met Githe-Meret Hancke Koertzen van Mentorskraal, plaaslike troue- en funksie-venue, gaan gesels oor wat presies jou opsies is as jy in hierdie tyd wil trou.Volgens Githe is die belangrikste ding wat sy, as troubeplanner kan doen vir haar bruide om almal kalm te hou. “Gedurende ’n wêreldwye pandemie is almal reeds gespanne en angstig – die tyd van verlowing en troubeplanning is veronderstel om van die gelukkigste tye in ’n mens se lewe te wees, en ek doen my bes om dit steeds te probeer bied.”
Sy het bygevoeg dat dit belangrik is vir paartjies en besighede om aanpasbaar te wees en die troue te herskeduleer indien hulle dit so verlang.
Wat is jou opsies indien jy nou ’n troue wil beplan?
Githe: Een opsie is om nou ’n klein seremonie te hou en ’n groter funksie te beplan vir 2022 – dalk die naweek van die paartjie se eerste huweliksherdenking.
’n Baie gewilde opsie deesdae is natuurlik ’n oggendtroue, die sogenaamde brunch wedding.
Indien die troulokaal oor akkommodasie beskik, is dit ’n opsie om die trougaste die aand voor die troue op die perseel te laat oorslaap en almal lekker saam te kuier of braai.
Die voordele daaraan is dat niemand hul oor die aandklokreël hoef te bekommer nie en ’n buitelug ontbyttroue perfek sal wees vir die gaste om ons land se natuurskoon te bewonder, terwyl die funksie aan goeie ventilasie- riglyne voldoen om almal se veiligheid te ver-seker.
Naweektroue
Omdat minder gaste toegelaat word, is dit dikwels moontlik om begroting aan ander dinge te spandeer wat die geleentheid spesiaal maak.
In Suid-Afrika het ons baie wonderlike troulokale, baie wat op of naby wildreservate of jagplase geleë is. Maak van die geleentheid gebruik om iets uniek aan jou gaste te bied.
Voorbeeldtydlyn vir ’n naweektroue
Dag 1: Verwelkom gaste met ’n wildrit en ’n spitbraai of braai.
Dag 2: Trouseremonie en Onthaal. Weer eens is dit voordelig dat gaste oorslaap om by die aandklokreël te hou sonder om die seremonie kort te knip en te moet bestuur.
Dag 3: Vaarwel ontbyt
Regstreekse uitsending
My voorstel vir gaste wat nie die troue kan bywoon nie, is om dit regstreeks uit te saai via gratis internetplatforms soos Youtube. So kan gaste wat nie tans mag reis nie – soos familie oorsee – ook deel voel van die spesiale dag.
Dinge om te onthou:
- Dis is belangrik om van die begin af bewus te wees daarvan dat regulasies enige tyd kan verander.
- Grasperkspeletjies en gasteboeke (waar al die gaste opeenhoop en aan dieselfde goed moet vat) is ongelukkig iets van die verlede.
- COVID-19 reëls soos temperatuurskanderings en gaste se besonderhede is verpligtend.
- Gaste moet ten alle tye maskers dra
- Mikrofone moet ontsmet word voor gebruik en moet op staanders geplaas word sodat dit “vatvry” gebruik kan word.
- Tafelplasings moet meer gespasieer word, by voorbeeld: daar mag net vyf of ses gaste by ’n tafel sit wat normaalweg 10 gaste sou akkommodeer.
- Groepeer huishoudings saam wanneer sitplekbeplanning gedoen word, eerder as om vriende bymekaar te plaas.
- Onthou dat die personeel, fotograaf en troubeplanner by die maksimum aantal mense ingesluit word.
Onthou bowenal om jou dag te geniet. Hierdie is ’n geleentheid wat net een keer in ’n leeftyd gebeur – maak die meeste daarvan.