• M

Vandag, meer as ’n dekade later, lewer die entoesiastiese tuisbakker van Patensie ’n verstommende hoe-veelheid watertandlekker soetgebak aan inwoners regoor die Gamtoosvallei.

Troukoeke, geleentheidskoeke en kolwyntjies: alles tradisioneel.

En sy kan op die laaste nippertjie ’n heerlike koek aanmekaarslaan.

“Of ek nou drie maande voor die tyd weet ek moet ’n troukoek bak, of ’n week, ek sal steeds vir jou ’n verruklike koek aanmekaar slaan,” sê Danika wie se enigste ‘opleiding’ talle lang ure in die kombuis is, en ’n drie-dag koek-kursus in Kaapstad.

Die begin van die bakkery

Besig om varsgebakte kolwyntjies te versier, vertel sy: “Ek was nog altyd lief vir bak. Ek kry my passie by my ouma Rina Schellingerghout.

“Ek wou graag na skool by die wêreldbekende sjef Peter Veldsman se Culinary Arts Institute of Africa Restaurant School studeer – maar dit was hopelooos te duur.

“Die tweede opsie: ’n diploma in onderwys by die Bloemfontein Onderwys Kollege.”

Koekbak was vir eers eenkant toe geskuif.

Danika sit ’n perfekversierde kolwyntjie op die kombuistafel neer: “Eers jare later, na die geboorte van my en Hardu se oudste seun in 2006, het ek weer begin koekbak. Maar slegs verjaardagkoeke vir ons kinders: Gerco (graad 7), Corniel (graad 5) en Leila (graad 3).”

Met passie gebak

Toe ander mense daarvan hoor en proe, het hulle begin vra, en die bestellings het vinnig begin instroom.

Haar koekbakbesigheid, Cakes by Danika, het later só groot geword dat sy amper elke dag van die week tuisgebak reg oor Patensie en omliggende gebiede afgelewer het. Sy bak ook vir haar suster, Heidi Muller, se padstal – die gewilde Padlangs Country Restaurant.

Tussen 60 en 70 kolwyntjies per week gaan na die Laerskool Gamtoosvallei in Patensie as deel van die skool se fondsinsameling verjaardagprojek, asook kolwyntjies vir die plaaslike jaarlike basaar.

Danika sê: “Dit is lekker om ander met my Godgegewe talent te kan help.”

Die gewildste koeke: sjokolade-, vanilla- en wortelkoek.

“Ek bly baie ver weg van daardie kitsmengsels waarby jy net ’n paar eiers en olie hoef te voeg,” sê Danika.

Sy gebruik goeie, vars bestanddele en maak alles vir elke produk van meet af vars.

Danika glimlag: “Kwaliteit is vir my baie belangrik: vir die beste koek, maak ek van die beste bestanddele gebruik – al is dit effens duurder.

“Ek probeer altyd my beste gee met alles wat ek aanpak – bestanddele is een daarvan.

“Ek wil hê mense moet dit geniet – die passie en liefde daarin proe.”

Haar grootste bakflater: “Ek raak so besig dat ek vergeet of ek koeksoda ingegooi het. Daardie klein lepeltjie maak ’n groot verskil.

“Die kinders en hul maats smul gelukkig heerlik daaraan.”

Terapie

Volgens Danika is bak harde werk, maar lekker en bevredigend.

“Dit is terapeuties en lekker om tussen ’n wolk van meel en vanielje meegevoer te word.

“Op ’n goeie dag sit ek die oond aand. Op ’n slegte dag sit ek die oond twee keer aan.

“Dit is wat my gelukkig maak.

“En die bakgeld kom nuttig te pas,” sê Danika wat al twee keer die uitdagende Ironman-kompetisie voltooi het, en drie keer die halwe Ironman-kompetisie.

“Dit help met die aankoop van tekkies, fietswiele en sporttoerusting.”

Toekoms

Wat hou die toekoms vir die bobaas-bakkker in?

Sy lag: “Daar is nie ’n spesifieke plan vir wat ek wil doen nie. My dagboek werk in weke. Ek is nie ’n groot beplanner nie, maar sal elke geleentheid wat oor my pad kom, met passie aanpak.

“Dalk nog ’n koekkursus of twee – mens kan nooit genoeg leer nie. Ek wil tog net nooit stagneer nie.

“En ek sal graag meer aandag aan ons gasteplaas wou gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.