Dierebestuurskomitee

Die nuutgestigde Kouga Dierebestuurs-komitee het dié doel voor oë: om die bestuur van diere se welstand in die gebied te verbeter.

Die komitee sluit in die Kouga Gemeenskapsdienste Portefeulje-raadslid Daniel Benson, asook ’n wykskomitee-lid uit elk van die 15 wyke, verteenwoordigers van die verskeie dierewelsynorganisasies, ’n dierebestuurs-oplei-dingskoördineerder en ander afgevaardigdes soos vereis.

Hulle het reeds die Humansdorp-stortingsterrein vroeër vanjaar besoek en vind tans ’n werkbare oplossing vir die probleem.

Sterilisasie

Benewens beperkte fondse, kan geen dier sonder die toe-stemming van die eienaar steriliseer word of sonder ’n hofbevel verwyder word nie.

Volgens Natassja Barnard van die DBV Assisi, strek dié probleem verder as slegs die verwydering van honde. “Indien daar geen beheer oor die toegang tot die stortings-terrein is nie, sal die huidige honde net met nuwe diere vervang word.

“Daar sal eerstens ’n volledige opname van almal by die stortingsterrein gemaak moet word, insluitende onwettige bewoners, werkers, kinders en diere. Ons sal dan vasstel aan wie die honde behoort, en diere sonder ’n eienaar verwyder.

“Honde-eienaars sal van belangrike inligting voorsien word, onder meer oor sterilisasie en die gevolge van verskeie siektes.”

Risiko

Die DBV Assisi versoek dat inwoners nié die stortingsterrein alleen besoek nie.

“Van die diere, en mense, kan aggressief raak indien hulle bedreig voel,” sê Barnard. “Enige persoon wat met die diere in aanraking kom, moet verseker dat hulle die nodige hondsdolheid- en tetanus-inspuitings gehad het.

“Hierdie is hoë-risiko omstandighede vir mens en dier.”

You need to be Logged In to leave a comment.