Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sê dit het onder sy aandag gekom dat sekere entiteite waninligting oor diere en die koronavirussiekte versprei.
Die NDBV sê in ’n verklaring hy wil die publiek verseker dat daar geen bewyse is dat die siekte van huisdiere na mense oorgedra kan word nie.
Dit is onduidelik of die virus van wilde diere na mense oordraagbaar is, en daarom word interaksie met wilde diere ontmoedig – nie net om etiese redes nie, maar ook om gesondheidsredes.
Die NDBV waarsku die publiek om nie staat te maak op nuus van entiteite wat nie direk betrokke is by die bestudering van die virus nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar geen bewys dat ’n hond, kat of enige troeteldier die virus kan oordra nie.
Die virus word hoofsaaklik versprei deur druppels as ’n geïnfekteerde mens hoes, nies of praat. ’n Beroep word op die publiek gedoen om inligting van betroubare bronne te kry, soos die WGO se webtuiste, www.who.int/, wat die jongste feitelike inligting bevat.
Die NDBV vra dat mense wat dit nie kan bekostig om na hul diere om te sien nie, die diere aan die DBV moet besorg eerder as om hulle aan hul eie lot oor te laat.
Mense word ook gevra om voorsiening te maak vir hul diere, hetsy troeteldiere, plaasdiere of wilde diere in gevangeskap, om te oorleef.