Dié boer maak gou ’n plan

DIE Oos-Kapenaar, Mark Dodd (53), woon en boer al die afgelope 29 jaar met beeste in die Elandsriviervallei. Die kudde vleisbeeste was aanvanklik geneties goed vir die gebied aangepas.


Mark
Mark Dodd druk aan die werk by die pottebakkers-wiel. Foto’s: VERSKAF

DIE Oos-Kapenaar, Mark Dodd (53), woon en boer al die afgelope 29 jaar met beeste in die Elandsriviervallei. Die kudde vleisbeeste was aanvanklik geneties goed vir die gebied aangepas.

Maar, net soos vele ander boere in dié drooggeteisterde deel van die land het die droogte ook sy boerdery geweldig geknou en moes hy as gevolg daarvan meer as 75 persent van sy kudde ver-koop.

“Om die beeste te voer het net nie meer finansiële sin gemaak nie en die diere was besig om die veld oor te bewei,” verduidelik Mark.

“Dit was regtig ’n moeilike en goeddeurdagte besluit om die kudde te ver-koop, maar in die groter prentjie was dit die regte besluit. Oorbeweiding rig geweldige groot skade in ’n ekosisteem aan en dit sou jare neem om die skade as gevolg daarvan te herstel.”

Maar ’n boer maak ’n plan en nogal een wat so in sy kraal pas!

“In November 2019, kort na ons, ek en my vrou Llise, die beeste verkoop het, het my ma, Maria, terloops genoem dat dit vir haar lekker sou wees as iemand haar pottebakkery voortsit. Sy het vir baie jare pottebakkersklasse by die Teg-niese Kollege op Kariega aangebied en ook daarna, tot en met haar aftrede, by die Woodridge College.”

“Sy het haar eie ateljee op hul plaas maar het ook soveel ander stokperdjies soos skilder, weef- en viltwerk buiten die pottebakkery wat sy net soveel geniet om te doen. Haar hande staan eenvoudig vir niks verkeerd nie.”

“So het sy die saadjie by my geplant en met die boerdery wat op wankelrige bene staan het ek daaraan begin dink om self pottebakker-lesse te neem wat ek mettertyd sou kon inspan om ’n besigheid te ontwikkel.”

“Na my eerste les was my ma darem heel tevrede met my en volgens haar het ek darem meer as genoegsame aanvoeling vir die klei en die wiel gehad; ’n pluimpie wat bevestig het dat ek moontlik op die regte pad kon wees!”

“Die saam “pottery” het my ma ook sommer weer aangespoor om haar stokperdjie met nuwe ywer aan te pak!”

Mark Dodd se ateljee wat hy met die hulp van sy vrou Llise en ouers gebou het.

Wat Mark deesdae uitsonder van ander pottebakkers is dat hy sy eie klei kan uitgrawe en verwerk.

“Ek ontgin die meeste van my klei hier op ons sowel as op die bure se plaas en ek is baie tevrede met die gehalte daarvan. Dit bak ook uitstekend. Llise is natuurlik self ook al vir meer as 20 jaar ’n kunstenaar en skilder vanuit haar ateljee hier op die plaas.”

“Haar ateljee is in ’n stoor naby aan die huis en tydens lockdown in 2020, het ons twee met die hulp van my ouers nog ’n deel van die stoor in ’n aparte ateljee vir myself omskep.”

“Nou is daar genoeg spasie sodat ons skilder- en pottebakkery-slypskole hier begin aanbied het. Alhoewel ek soms my ma se elektriese oond (kiln) gebruik, vuur ek ook gereeld my houtkiln wat ek self gebou het. As my volgende eksperiment werk (ek het my kiln se dakkie met leiklip van die plaas gebou omdat die firebricks so duur is), sal ek my finale oond bou.”

Mark hou ook daarvan om met die meng van glasure te eksperimenteer.

“My doelwit is om iets mooi te maak vir elke dag se gebruik en daarom hou ek daarvan om met subtiele vormwerk en unieke glasure karakter aan my werk te gee,” sê hy.

Die Dodd-egpaar het twee dogters, Lana en Carla en ’n skoonseun, Matthew Stafford, wat met Lana getroud is.

“As ’n stokperdjie ry ek en Llise bergfiets wat ons ook sommer fiks hou, soek en identifiseer graag voëls en behoort ook aan ’n wynwaarderingsklub. Die boerdery is darem ook nie heeltemal tot niet nie en ons het ook nog ’n klein bye-boerdery wat ons terdeë geniet.”

Volg Mark en Llise Dodd op Instagram by grumpy_bear_ceramics of llisedodd_art, en op Facebook by Llise Dodd Art Studio, of kontak Mark direk op 082 565 9947 as jy sy pottebakkersklas wil bywoon.

You need to be Logged In to leave a comment.