KUNSTENAARS . . . stalletjies . . . kleurvolle pretdraf . . . kos . . . en sport.
Alles op een dag. Met een rede: om groot fees te vier.
Die Laerskool Jeffreysbaai – ’n toonaangewende skool waar onderwys op professionele, voortreflike en aanpasbare wyse in Afrikaans en Engels aangebied word – hou op 12 April ’n groot fees by die skool ter viering van hul 100ste bestaansjaar.
Die begin?
Die skool het op 1 Januarie 1919 vir die eerste keer geopen. Dit volg na ’n klein skooltjie in 1913 van Sunnyside na Jeffreysbaai verplaas en ’n nuwe primêre skool op 21 November 1918 gestig is.
Die eerste skoolhoof, asook eerste onderwyser, Mej. J.E.C. Buys, het in die beginjare slegs tien leerders onder haar bekwame vlerk gehad.
Nagenoeg ses jaar later is die eerste volwaardige skoolgebou teen ’n koste van 150 Pond in 1924 opgerig. Dié gebou dien tans as die J.E.C. Buys Klerebank. Voor die klerebank was die gebou ’n biblioteek.
Die huidige skoolgebou is in 1980 gebou.
Deur die jare het die laerskool in status tot ’n gewilde skool gegroei en spog tans met nagenoeg 800 leerlinge.
Die oorspronklike blou kleur van die skool het oor die jare plek gemaak vir ’n skakering van grys en wit.
Missie en Visie
Die skool verbind hom tot die uitbreiding van die taal en kultuur waarin die leerders onderrig word.
Die instansie streef daarna om ’n veilige, stimulerende en gedissiplineerde omgewing vir die leeraktiwiteite van al die leerders daar te stel.
Die skool se sportgeriewe vergelyk met van die bestes in die provinsie. By die Laerskool word veral beklemtoon dat leerlinge alle sport moet geniet sodat die beginsel van gesonde sportmangees sterk gevestig word.
’n Hoogtepunt op die laerskool se sportkalender is die jaarlikse Value Added Life Aloe Cup.
Twaalf o.11-rugbyspanne en o.12-netbalspanne van skole in die Oos- en Wes-Kaap, asook die Vrystaat, meet in Junie vanjaar kragte in Jeffreysbaai tydens die jaarlikse KFC Aloe Cup – die grootste geleentheid op die Laerskool Jeffreysbaai se rugbykalender.
“Dit is ons bede dat alle aktiwiteite van ons skool tot eer en verheerliking van God, Ons Vader, uitgevoer word,” sê skoolhoof Johan Dippenaar.
“Ons leuse ‘Altissima Pete’ beteken juis ‘Strewe na die Allerhoogste’.”
Personeel
Die skool spog met ’n dinamiese groep perso-neellede wat alles insit om te sorg dat leerders die beste onderrig en top-afrigting ontvang.
“Ons handhaaf ’n goeie balans tussen ervare en jong, energieke onderwysers. Dié kan soms tot groot sports lei – soos weerspieël tydens ons personeelontwikkeling-sessies,” sê Dippenaar.
Laerskool Jeffreysbaai het verder ’n betrokke beheerliggaam wat uit hul pad gaan om die geboue en onderrigmedia te verbeter en te vernuwe.
Volgens Dippenaar vorm hulle, in samewerking met die hoof, adjunkhoof, departementshoofde en bestuur, ’n span wat sorg dat die skool dié plek is waar leerders wil wees.
“Dankie aan ons gemeenskap wat so graag help en dankie vir almal wat ‘n positiewe toe-voeging tot ons skool gehad het,” sê Dippenaar.
“Mag die volgende 100 jaar bou op die fonda-sies wat reeds gelê is.”