BO: Karlien Olivier weet presies wat sy wil hê en waarheen sy op pad is Sy is in 2010 met Harry Olivier (links) op die strand in Jeffreysbaai getroud. INVOEGSEL:Karlien Olivier leef haar passies uit: haar werk, haar man, en iemand wat die aarde en omgewing beskerm wil sien en ’n verskil wil maak waar sy betrokke is. Foto’s:VERSKAF


SY is fyn, in elke nuanse van die woord, maar moenie jou met haar vergis nie – sy weet pre-sies wat sy wil hê, en waarheen sy op pad is.

En hoewel Shakespeare se melan-koliese Jacques reken: “All the world’s a stage, and all the men and women merely players,” weet sy dat háár verhoog ’n realiteit is wat die hoogste toewyding vra.

Dit, kortliks, is Karlien Olivier van SABC2-faam, en sy protesteer beskeie oor die stelling dat sy volksbesit is soos Fanus Rautenbach. Maar dit moet wees, want as nuusleser op SABC2 het sy vir langer as ’n dekade deel geword van Afrkaans-nuusluisteraars se kontak na buite.

Karlien het onlangs weer Jeffreysbaai besoek om vir haar bekende ouers, Pirow en Trumie Viljoen, eienaars van Mugg en Bean op die dorp, te kom kuier – die einste hartsplek waar sy in 2010 met Harry Olivier op die strand getroud is.

Haar aktiewe lewe sê harder as woorde dat sy leef wat sy glo. As gebore Pretorianer het sy saam met haar ouers in Jeffreysbaai kom nesskop, by Nico Malan gematrikuleer, BA by UPE (tans NMU) gestudeer, en toe BA-honns in joernalistiek by Maties in Stellenbosch.

En sedertdien leef sy haar passies uit – haar werk, haar man, en iemand wat die aarde en omgewing beskerm wil sien en ’n verskil wil maak waar sy betrokke is.

As verslaggewer in die Oos-Kaap het sy waarskynlik meer ervaar as meeste ander van haar jare, maar haar elf jaar as nuusleser by SABC2 staan vir haar uit. Hier ken haar medewerkers haar as betroubaar en lojaal.

Op hierdie reële verhoog loop alles blitsig, en as besluite nie vining en reg gemaak word nie, laat dit haar draad vinnig krimp.

Die haastige joernalistieke lewe eis voortdurend – óf spertyd óf dooiepunt. Dié deadline of deadlock jaag mediamense na die voorpunt van die re-sies, en dít is wat haar in hoogste versnelling plaas.

Haar gemeenskapsbetrokke ouers, met hul liefde vir die see, het haar gevorm om omgewingsbewus te wees. Om sonder loon by gemeenskapsake betrokke te raak, spreek vir haar van hoop vir die toekoms – mits almal hul deel doen en nie van ander verwag om dít ook te doen nie. Haar ouers tel nog gereeld plastiek op die strand op – “’n uitstekende voorbeeld,” sé sy.

Die ekstra betrokkenheid – dit is waarom dié hardwerkende vrou soms wegbreek na ’n stuk oudwêreldse romantiek in Thailand of die Maldive. Sy ervaar daar ‘n stukkie van haar eie waardesisteem, veral in die Maldive, waar mense hul beperkte hupbronne ten beste benut.

Sy vind haar genot in lees, kos-maak (“as ek tyd het”) en liggaamlike oefening. Sy het selfs die maak van klein houtwerkprodukte op haar kerfstok.

’n Stukkie ironie en nostalgie kom na vore as jy haar vra wat sy anders sou doen as sy haar lewe weer moet leef. “Ek sou my ouers meer waardeer het, meer by Oupa en Ouma op die plaas gaan kuier het, meer in die see geswem het. En stellig sou sy soos haar ma Trumie meer betrokke gewees het by die welsyn van diere – honde, katte, renosters.

Waar sy die tyd daarvoor sou gevind het, weet nugter – dié opregte, bekwame en soms ongeduldige bondel energie wat só probeer leef dat elke oomblik tel.

Vir haar is die lewe meer as ‘n speeltoneel op die verhoog.

You need to be Logged In to leave a comment.