Die broers Isak en Samuel Murray bespeel handsae tydens ’n massakooruitvoering op Jeffreysbaai. Samuel bespeel al dieselfde saag vir 65 jaar!

Foto: Veronica Fourie

Samuel Murray (79) en sy broer Isak (75) het behoorlik die gehoor laat regop sit toe hulle ’n paar nommertjies op hulle handsae gespeel het tydens ’n uitvoering van die Oos-Kaapse massakoor op Jeffreysbaai.

Hulle het twee FAK liedjies gespeel: Liewe Maan, en Groen Koringlande.

Die Murray-broers het toe vir die eerste keer saam opgetree, ondanks hul saamspelery oor die jare. “Ek het as kind die eerste keer ’n blinde man hoor saag speel wat van dorp tot dorp getoer het. Dit het my geïnteresseer, en ek het besluit om ook te probeer,” vertel Samuel. Op hoërskool het ’n familievriend vir hom ’n musieksaag geskenk gegee.

“Dié saag is van ’n ander metaal gemaak as ’n gewone houtsaag. Ek het myself leer speel, want saagspelers is maar skaars. Mens kry maar hier en daar wenke. Ek het aangesluit by ’n Facebook-groep vir saagspelers, waar ek gereeld na opnames luister. Dan probeer ek en my broer dit dan self,” sê Samuel.

Verskille

Benewens die staal wat verskil, word die tandjies van ’n musieksaag verwyder met ’n hoekslyper. Samuel sê: “Ek het sommer gou my handsaag se tandjies ook verwyder want dit het my broek geskeur!”

Die musieksaag kan ook ’n ander vorm hê. Hy speel nog met dieselfde saag vandat hy 14 jaar oud is!

Tegniek

Dit verg nogal ’n besondere vaardigheid om ’n saag te bespeel en ’n herkenbare melodie voort te bring. Die saag word met die been beweeg om ’n vibrato voort te bring, hoewel sommige spelers dit nie doen nie. Daar is ’n spesiale tegniek om die saag vas te hou, en word dan met ’n strykstok bespeel. “Ons verkies om met ’n tjello strykstok te speel eerder as ’n viool strykstok.”

Die lae note is aan die breë kant van die saag.

Skaars

Saagspelers is skaars, en sover bekend is die Murray broers die enigstes in die Oos-Kaap, hoewel daar wêreldwyd saagspelers is. “Op die Facebook-blad vir Sawplayers is daar lede van Amerika, Japan, China en elders. Dan is daar nog ’n blad vir Saagspelers van Suid-Afrika.

Reaksie

Mense is gewoonlik uit die veld geslaan as hulle hoor dié eerstydse predikant bespeel die saag. “Dis nie ’n alledaagsheid nie, en dit trek baie belangstelling wanneer ek of my broer êrens optree. Meestal speel ons vir eie vermaak. Dit is maar nou vandat ek en Isak albei afgetree het en ons op Jeffreysbaai kom vestig het, dat ons kan saam saag speel,” sê Samuel.

Hy is ook ’n talentvolle sanger en het juis tydens die massakoorfees ’n solo gesing. Hy was ook deel van die Cantando koor. Samuel was voorheen leraar in Gqeberha, Molteno, Secunda, en sy laaste gemeente was in Belville waar hy afgetree het.

You need to be Logged In to leave a comment.