Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Dis tog te dierbaar as ’n baba geheg raak aan sy of haar kombersie. Nêrens daarsonder wil gaan nie, of ook nie daarsonder wil gaan slaap nie.

Dit is vir ’n geruime tyd die belangrikste item in die kindjie se lewe. Dit verskaf troos, geborgenheid en ook warmte. Die sagtheid daarvan teen die baba se wangetjie stimuleer die gevoelsintuig.

Daardie gevoel bly ’n mens maar lewenslank by. Al is mens hoe groot, oud, en sterk, daardie troetelgevoel bly sterk. Grootmense wil in slegte tye hulself dikwels net toewikkel in ’n kombers as skans teen die wrede wêreld.

Ek het in ’n selfhelpboek gelees dat daar helende krag in skeppende werk is. Skilder of teken is nie onder my talente nie. Maar ek het gedurende ’n moeilike tyd in my lewe besef ek moet daardie skeppende ding doen om heel te word. Dis toe dat ek die breipenne opneem.

Ek is hopeloos om ’n breipatroon te lees, maar met die hulp van vriendin Linda en maters by die omgeegroep, kon ek ’n paar varia-sies van die mossteek brei. Steek vir steek, ry vir ry, het ek blokkie vir blokkie klaar gebrei. Tot daar uit-eindelik na maande genoeg blokkies was vir ’n kombers.

Die harde werk was om dit noukeurig aanmekaar vas te werk, en af te rond met ’n randjie. Ek was so verras met die eindproduk! Dit was vir my so mooi. Maar bowenal, het die kombers my helingsproses aangehelp. Om dit net op my bed te sien lê, was klaar vertroostend. En om dit nog saans oor my te gooi wanneer ek gaan slaap en die sagte wol teen my wang te voel, was soos toe my pa my as klein dogtertjie toegewikkel het.

Die knusheid van my kombers in sandkleure, het my geïnspireer om sommer nog ’n kombers vir my dogter Erika te brei. Sy wou graag een in skakerings van rooi hê.

Vir my seun Ruhan het ek een gebrei in blou, rooi en wit. Daarna volg een vir my kleinseun Heston in groene, en nog een in pienke en perse vir Yula. Daar volg toe een vir ’n spesiale vriend, in pers en grys. Toe Yula koshuis toe is vanjaar, het sy gevra ek moet vir haar ’n kom-bers brei in die kleure van die see.

Dit het pragtig uitgekom. Sy sê as die dag rof is, is dit vir haar lekker om te weet haar see-kombers wag vir haar. Ek en Erika het saam gebrei aan ’n ligte groen kombers.

Met my weeklikse besoek aan ’n tehuis vir bejaardes, merk ek dat daar op die meeste bejaardes se beddens ’n handgemaakte kombersie lê. Meeste is gebrei of gehekel.

Miskien gaan die komberse wat ek gebrei het, ook enduit saam ouetehuis toe …

Dit gee my eindelose genot om te weet dat ek ’n bydrae kon maak tot die gevoel van veiligheid en geborgenheid wat ’n kombers kan verskaf. Al is dit op my kokaai manier met hier en daar ’n glips, is daar baie liefde ingebrei. Dis my wens dat elke kind – en grootmens – ’n “bersie” het wat daardie skans is teen die wêreld. Of dit nou een is van lappies, gebreide blokkies, gehekelde kurwes of ’n duvet wat soos ’n wolk oor jou vou – ons het almal so een nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.