’n JONG man in ’n blou oorpak, kappie en gesigmasker kom na die ysterhek aangestap – al beurend teen die sterk wind.
By hom is twee opgewekte honde: Candy en Foot. Siya January (35), die saggeaarde toesighouer by die JBay Animal Rescue Santuary in Ocean View, maak die hek oop en glimlag skeef, terwyl hy die eens weggooi-honde liefdevol oor die kop vryf.
Nóg ’n hond, Blondie, kom nader. Hý soek ook ’n kopkrap.
Die honde is deel van die JBay Animal Rescue Sanctuary-familie – almal deur hul vorige eienaars weggegooi.
“Hulle is baie soet,” sê January en loer af na hulle.
Ons stap na die administrasiegebou van die Community Animal Clinic wat in 2019 sy deure geopen het – spesifiek vir laer-inkomste inwoners wat veeartsenykundige dienste benodig.
Candy en Foot gaan lê by sy voete.
Elke nou en dan gee een van January se been so ’n skramse skuur ingeval hy ’n ekstra vryfie het om uit te deel.
Passie vir diere
“Ek was nog altyd lief vir diere en beskou dit as ’n roeping om hulle te help,” sê January wat sedert Junie 2019 by die JBay Animal Rescue Sanctuary werk.
En ’n dier in nood – al wissel dit van boerbok tot donkie, kat of hond – laat hom onmiddellik, sonder ’n sekonde se twyfel, oorgaan tot aksie om te red. Al beteken dit hy moet in die middernagtelike ure opstaan.
“Wat moet ek dan nou maak?” vra hy. “Die Here het mos die diere gegee dat ons na hulle kyk. Ek kan hulle mos nie los nie. Die Here sal my straf.”
January het al verlore honde op ashope gered en ’n steekbaardbrakkie na ’n veilige hawe geneem na haar baas haar wou doodskop. Diere wat dringend mediese hulp benodig het, is van persele verwyder, en beslag is gelê op tientalle honde by een huis. Hy het selfs met ’n erg beseerde hond na die veearts gejaag.
Terug by die kliniek . . .
Honde van die omgewing wat saam met hul base kom aanklop vir ’n bietjie hondekos, word met ’n heerlike bad beloon. Waar nodig, word hulle ontwurm en dipstof toegedien.
January help verder met basiese ondersoeke, die skoonmaak van die perseel en die algemene versorging van die diere. Asook die opvoeding van die gemeenskap – oud en jonk.
Uit die rigting van Candy en Foot hoor ons ligte snorkgeluide en nou en dan iets wat na ’n sug klink.
“Die Here het mos geweet ek is lief vir diere. Daarom het Hy gehelp met dié werk,” sê hy.
Nuwe tuiste
Buite blaf honde in hokke.
Daar is ook dié wat net kop onderstebo met groot smekende oë loer.
January se hart klop warm as een van die diere in die hokke ’n nuwe tuiste kry.
“Maar ons inspekteer eers die perseel voordat die dier na die nuwe huis gaan,” sê hy. “Jy sal sien: hier bly hulle in hokke. Ons wil nie hê hulle moet maar net weer na ’n volgende hok toe gaan nie.
“Ons wil kyk of hy skuiling gaan hê en ’n plek om te hardloop in ’n omheinde erf. Ons soek iemand wat die dier sal liefhê en nie net buite vasmaak nie. En hy moet genoeg kos en water kry.”
Die moeilikste van sy werk: “Wanneer genadedood die enigste opsie is,” sê hy half-fluisterend. “Wanneer daar niks meer is wat ons vir hulle kan doen nie.”
Toekoms
January droom groot vir die toe-koms.
Hoewel hy sy werk baie geniet, hoop hy om een dag ’n inspekteur of veearts te wees.
Maar die belangrikste: Hy moet met diere werk.
January glimlag: “As ek ’n dier sien, enige dier, helder ek op. Iets in my begin léwe.”
Meer inligting
Die JBay Animal Rescue Sanctuary, geleë op die pad tussen Jeffreysbaai en Astonbaai, is oop vanaf 08:00 tot 17:00 gedurende die week, en van 08:00 tot 10:00 en van 15:00 tot 17:00 op Saterdae en Sondae. Geldelike skenking kan inbetaal word aan die JBay Animal Rescue Sanctuary by Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer: 62483048445. Vir meer inligting, ska-kel 083 650 6373 (Jessica Naudé) of 076 675 6633 (noodgevalle).