Doodsklip borrel van lewe

By Doodsklip in die skone Baviaanskloof kan jy snags in stereo luister na Radio Bos met ’n luiperd in die hoofrol en bedags kan jy die kaskenades van die baljarende bobbejane in die Kouga-rivier afloer, skryfMariska Spoormaker.


AAN die oostelike kant van die Baviaanspoort en by die bopunt van Combrink se Berg vou die berge ondertoe oop in kleurskakerings van bruin, groen, donkergroen, ligblou, persblou en newelgrys so ver as wat die oog kan sien.

Hierdie wildernisgebied van die Groter Baviaanskloof is ’n natuurwê-reld leeg van mense en vol wilde diere. Dit is ook ’n belangrike opvangsgebied vir die Kougadam – wat sitrus- boorde, groentelande, stedelinge en dorpenaars oor ’n wye gebied van water moet voorsien.

Die ou provinsiale pad (R332) wat hier oor steil bergpasse en deur driwwe loop, is só verniel dat geen sedanmotor dit meer sal baasraak nie.

Die pas wat van Patensie se kant af teen Combrink se Berg loop, is vol erge steiltes, haarnaalddraaie, ga-pende afgronde, spoelslote, klipbanke, los klippe en ander riller-elemente. Volgens oorlewering het die reisigers in die tyd van ossewaens dié pas ook “Poepsloot” genoem – vanweë die winde wat die arme osse glo van pure inspanning gelaat het terwyl hulle met hul vrag teen die steiltes uitge-beur het.

Combrinkspas is net 5,5 km lank, maar klim en sak 333 m deur 73 draaie. Baie van dié draaie is boonop haarnaalddraaie. Die gemiddelde gradiënt is 1:16, maar is 1:8 op sekere gedeeltes. ’n Mens bid ook maar daar kom nie ’n voertuig van voor nie, want dit is hoofsaaklik ’n enkelbaanpad. Wanneer jy wel ’n ander voertuig van voor teë-kom, sal iemand moet aftrek langs die pad, of as daar nie plek is nie, maar terugstoot tot daar plek is.

Al is daar plek-plek sement-tweespoorpaadjies gelê, kan jy die pas met niks anders as ’n baie goeie 4×4, met ’n behendige bestuurder agter die wiel, aanpak nie.

’n Unimog, soos die een waarin ons die pas aandurf, is ’n lekker hoë bielie wat ’n mens se uitsigte sommer tot die mag tien verbreed. Ongelukkig bete-ken dit ook ’n mens het ’n onbelemmerde blik op die afgronde langs die steil pas. Dan staan jy maar met be-wende knieë op en gaan sit aan die anderkant van die voertuig.

Die Unimog kén van vastrap oor ongelyke pad, klim teen die steiltes, rem-ry teen die afdraandes en skerp draaie in die haarnaalde, en bo op die plato aangekom, kan ’n mens begin soek na wild, want hier hoef die buffel, bok en luiperd nie weg te kruip vir mense met gewere nie. Hier in die Baviaanskloof kry die woord “natuurskoon” sy ware betekenis.

Op die plato loop die pad verby Bergplaas met sy klip-kraalmure. Ja, eens was dit alles landbougrond – tot die 1970’s toe die destydse regering die plase in hierdie uitgestrekte- en berg-agtige gebiede aan die oostekant van die Baviaanskloof as belangrike opvangsgebied vir die Kougadam onteien het.

Boer soek ’n tou

’n Boer maak ’n plan, lui die gesegde en tussen die Bergplaas-oornaghut (met slaapplek vir 12 mense) en Holgatpas is ’n uitdraaiplek na ’n voortreflike voorbeeld van dié soort boerevernuf. Winston le Roux en sy plaaswerkers het in 1967 hier ’n kabelspoor met ’n vervoerbak oor die Waterpoortravyn, 410 m breed en 387 m diep, gebou.

Winston verduidelik op sy webwerf die oorsprong van hierdie merkwaardige stukkie ingenieurswerk: “My twee produktiewe plase Good Hope (Bergplaas) en Enkeldoorn word deur die ravyn geskei. Ek moes oor 48 km deur twee baie steil passe en oor rowwe plaaspaaie ry om van die een plaas na die ander te kom. Díe rit het net so lank geduur as wat dit my geneem het om vars produkte van Good Hope na Port Elizabeth se mark aan te ry.”

Skeptici het nooit geglo die kabel-kar sou werk nie, maar Winston het almal verkeerd bewys toe hy vragte van 5 ton (onder meer vee, groente, koring en aartappels) binne ’n kwartier van sy een plaas (Enkeldoorn) oor die Waterpoortravyn na die ander plaas (Good Hope) oorgestuur het.

“Die kabelspoor het die vervoertyd van produkte van Good Hope na Enkeldoorn en terug na Good Hope van 3,5 uur na 12 minute verminder,” skryf Le Roux.

Hy het ook ’n boek, getiteld Beautiful Baviaanskloof, wat meer oor die bou van dié kabelspoor vertel, ge-skryf.

Vandag – 53 jaar later – is die kabelspoor steeds gespan en hang die oorblywende gedeelte van die kabelwaentjie nog aan die kabel. Dit is regtig die moeite werd om hier te vertoef. Jy sal die afdraaibordjie na die “Cable Way” op jou pad tussen Bergplaas en Doodsklip sien.

Op soek na water

Die mikpunt vir die dag is Doodsklip, om die tentpenne vir die naweek te gaan inkap, maar eers lê Holgatpas nog voor. Hier kan ’n mens jou verkyk aan die uitsigte, gril vir die afgronde en sommer hardop wonder oor pleonasmes (’n samestelling of frase wat twee woorde met dieselfde betekenis bevat) soos Holgat. ’n Gat ís immers mos hol.

Doodsklip is ’n kampplek met vyf staanplekke aan die rugkant van die Kouga-dam.

Dis ’n lekker plek vir swem, roei en visvang met die opgedamde water wat so ver terugstoot.

’n Mens weet egter nie vir seker of dié baljaarwater jou beskore sal wees, nie, want die jarelange droogte het menige fonteine en boorgate opge-droog en eens breedvloeiende riviere na dun stroompies laat krimp.

Niekie Dorfling, die man agter die stuurwiel van sy Unimog, stoot eers aan verby Doodsklip en dan Rooihoek (geen dagbesoekers hier toegelaat nie) tot by Smitskraal, waar daar ’n groot piekniekterrein en swemplek by die Kougarivier is.

By Smitskraal probeer ’n span motorfietsryers hulle asem in die koelte van die doringbome terugkry. Die manne broei seker lekker in hulle dik motorfietsklere.

Die stofpad loop deur die piekniekterrein tot waar dit gaan draai by die Kougarivier. Die rivier is so vlak hier, ’n mens kan staan en dan kom die water tot net so by jou nek.

’n Mens sou dae lank in die koel water kon bly, maar die tente moet nog opgeslaan word. Oppad terug na Doodsklip stap ’n klomp kinders langs die pad. Aan hulle rooi gesigte, moedelose omkyk na die aankomende Unimog of sommer platsit langs die pad kan ’n mens aflei hulle het al ver ge-loop het.

Hulle is leerlinge van Woodridge College (’n privaatskool aan die buitewyke van Port Elizabeth) en hulle is op pad om te gaan oorslaap by Rooihoek. Mense vertel graag van Rooihoek se wit “strande” langs die rivier en die lekker swemgate.

Jou ou buffel!

Die hitte bak ’n mens onderstebo, al is elke kantseil van die Unimog hoog opgetrek. Niemand sê dit hardop nie, maar almal hoop stilweg daar is ook by Doodsklip darem nog ’n bietjie water in die rivier.

By die kampplek staan ’n groot tent en ’n kleiner tent op staanplek nommer twee. Onder ’n seilafdak staan ’n tafel en stoele, klere hang aan ’n wasgoedlyn en eenkant staan ’n sleepwaentjie, maar geen motor nie. Dié mense het seker maar uitgery op ’n besigtigingstoer.

Ons maak die Unimog onder ’n reu-sewildevy op staanplek nommer een staan en maak dan seker enige kos is diep gebêre en die seilvensters is deeg-lik toegerits. Dit is bobbejaanwêreld hierdie en “baviaan” is immers die Nederlandse woord vir bobbejaan.

Die pad na die rivier loop deur strui-ke en bossies en ’n mens moet maar jou ore gespits hou vir buffels. Hulle word nie verniet ook “black death” genoem nie. Veral die “dagga boys” (die buffelbulle wat deur die jonger en meer viriele bulle uit die trop gejaag is) is befoeterd. Hy bekruip jou in ’n sirkelbeweging, storm jou van agter af en gaffel jou dan met sy horings.

Die rivier vloei, maar die droogte het die Kougarivier se vlak só laag gedruk dat Doodsklip nou, net soos Rooihoek, met wit strande spog. Met dié strand kan jy tot by die agterpunt van die Kougadam stap. En ja, hoor, daar is báie buffelspore in die sand . . .

Verder vorentoe, op ’n plek wat gewis in ’n goeie reënjaar diep onder water sal wees, staan ’n hengelaar in ’n stroompie. Dis een van die kampeerders op staanplek nommer twee.

Hy groet vriendelik en waarsku dan: “Versigtig wees vanaand! Gisteraand het ’n trop buffels hier deurgekom. Die luiperd kom ook baie naby – ek het hom weer gisteraand hoor brul.“

Brul of grom ’n luiperd? Niemand kan met sekerheid sê nie. Niemand is ook seker hoekom Doodsklip só ge- noem word nie.

Storietyd

Daar is twee hoë rotsblokke aan die kamp se kant van die rivier. Volgens oorlewering is die hoogste rots van dié twee blokke Doodsklip. Een vertelling lui dat ’n man jare gelede daar gesit en visvang het, toe raak hy lus om te slaap. Hy het die lyn aan sy toon gebind sodat die vis wat byt se pluk hom uit sy slaap sal wek. Maar toe was dit só ’n groot vis, hy het die hengelaar van die rotsblok getrek, waarna hy verdrink het.

Ander mense sê Doodsklip het sy naam gekry in die dae toe die grond nog landbougrond was op die plaas Lemoenkuil. ’n Paar mense het glo op onverklaarbare wyses in die omtes van die groot rotsblok gesterf, toe noem mense dit Doodsklip. Ander sê weer ’n man het homself daar om die lewe gebring.

Daar is ook mense wat sê as jy teen sononder baie mooi na die rotsblok kyk, laat die skaduwees die rots dan soos ’n skedel lyk.

Dít kon ons egter nie sien nie. Doodsklip is darem nie só hoog dat ’n mens ’n vlag moet plant nadat jy hom uitgeklouter het nie, maar in droogtejare kan ’n mens homself beslis te pletter val. Sou die rivier weer só hoog loop dat Doodsklip soos ’n eilandjie lyk, dan kan ’n man dalk verdrink as hy daar afduik.

Teen slaaptyd lê die laaste brandende kole dofrooi in die as, maar geen buffel het homself nog laat sien of hoor nie. Die luiperd lê seker iewers in ’n boom en begluur die wêreld.

Die volgende oggend vra Heilie Combrinck, wie se verjaarsdag ons hier kom vier het: “Het julle gisternag die luiperd gehoor?”

“Hoe het dit geklink?” vra Niekie.

“Soos ’n hyg-roggel,” sê sy. “Dis nie ’n brul of ’n grom nie. Dit was baie vreesaanjaend. Dit het geklink asof hy nie eers ’n meter van my af was nie.”

Gelukkig staan die tente en die buffels het verbygehou.

Hoog in die lug bo die Kougarivier draai die swaeltjies rond. Die somer is hier, die reën moet nou net kom . . .

  • Dis eenvoudig: Doodsklip is ’n baie basiese kampeerterrein met put-toilette. Hier is geen kraan-water nie.
  • Bly op jou plek: Bly binne die afgebakende kampplek ter wille van jou eie veiligheid.
  • Pak dít in: Swemklere, sonbrandolie, hoed, kamera, notaboek, verkyker en al jou natuurboeke.
  • Soek diere: Hier is buffels, luiperds (as jy gelukkig is), bobbejane, apies, duikers, bosbokke, ribbokke en ’n ryk voëllewe om te bekyk.
  • Pasop vir Kees en kie: Hou altyd rekening met die bobbejane wat al lankal geleer het dat mense wat kampeer kos by hulle het. Verseël die kos in houers. Moe-nie die bobbejane of ape voer nie en moet ook geen kos agterlaat nie.
  • Maak soos Zibi sê: Neem al jou rommel saam terug huis toe.
  • Kyk, moenie vat nie: Die Baviaanskloof-megareservaat is ’n beskermde natuurgebied – jy mag geen steggies, of plante neem, hout versamel of blomme pluk nie.
  • Hoeveel plek is daar? Die Doodsklip-kampterrein het vyf staanplekke met ’n maksimum van ses persone per kampeerplek.
  • Waar bespreek ek? Bel die sentrale besprekingskantoor van die Oos-Kaapse parke en toerisme agentskap by 043 492 0881 of bespreek jou plek aanlyn by http://bookonline.ecpta.co.za.
  • Hoe kom ek daar? Om by Doodsklip te kom kan jy die Baviaanskloof aan die oostekant (die Patensie-kant) op die R332 binnery. Onthou, hierdie gebied, ook bekend as die Wildernisgebied van die Baviaanskloof, is 100%-4×4 wêreld. Wanneer jy van die westekant (Die Willowmore-kant) die Baviaanskloof binnery, kan jy tot ten minste by die gasteplaas Zandvlakte op die grens van die Baviaanskloof Wildernisgebied met ’n gewone sedanvoertuig ry.

You need to be Logged In to leave a comment.