Dragtige koei doodgeskiet

’n Dragtige renosterkoei is doodgeskiet en ’n bul is gewond toe stropers Saterdag op ’n wildplaas buite Jeffreysbaai toegeslaan het.


’n Dragtige renosterkoei is doodgeskiet en ’n bul is gewond toe stropers Saterdag op ’n wildplaas buite Jeffreysbaai toegeslaan het.

Die koei sou oor twee maande gekalf het. Dis onseker of die bul die aanval sal oorleef.

Sy is die 17de renoster wat vanjaar in die Oos-Kaap doodgeskiet is.

Rodney Visser, hoof van die Shamwari-groep se teenstropingseenheid, sê die statistieke vir die Oos-Kaap is kommerwekkend. Hy waarsku dat hulle verdere aanslae op renos-ters in Desember verwag en dat alle wildeienaars nou hoogs paraat moet wees.

Die meeste renosters wat in een jaar in die Oos-Kaap doodgeskiet is, was 19 in 2016. In 2017 is 12 renosters doodgeskiet en een is gewond.

Johan Lottering, eienaar van die Lombardini-wildplaas waar die renosters geskiet is, sê veldwagters het omstreeks 01:00 minstens vier skote gehoor en het onmiddellik ondersoek gaan instel. Dit lyk asof hul vinnige optrede die stropers se planne in die wiele gery het, aangesien nie een van die renosters onthoring is nie.

Die vyfjarige bul en 14-jarige koei het nog geleef toe die veldwagters by hulle gekom het.

“Ongelukkig is die koei sowat ses uur later dood. Sy was dragtig en haar dood beteken die verlies van twee renosters,” sê Lottering.

Dr. William Fowlds, ’n wildveearts, het die bul ondersoek wat die aanval oorleef het en meen daar is ’n 50%-kans dat hy sal oorleef, hoewel hy op die oomblik rondstap en dit lyk asof die koeëlwond hom nie te veel pla nie.

Dit was ook op dié wildplaas waar ’n renosterkoei in Mei 2015 vier dae lank vermink in die bosse van die reservaat gelê en steeds oorleef het nadat stropers vier renosters in twee weke gestroop het. Dié koei se horings was tot onder die horingbed afgekap en sy is ná haar dapper oorlewingstryd Hope gedoop.

Lottering sê hy is onseker of die afgelope naweek se stropers dieselfde stropers is wat voorheen toegeslaan het.

Kol. Sibongile Soci, provinsiale polisiewoordvoerder, het gister gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

  • Die Departement van Omgewingsake het in September bekend gemaak dat 508 renosters van Januarie tot Augustus vanjaar gestroop is.

You need to be Logged In to leave a comment.