TERWYL die meeste Kouga-inwoners Saterdag die lang ure van inperking met ’n boek of tuiswerk verwyl het, het verskeie Jeffreysbaai-atlete ’n adrenalienbelaaide uitdaging aangepak.
Twee-en-dertig topfiks-drawwers van Running with Friends – ’n informele drafklub in Jeffreysbaai – het Saterdag ’n totaal van 386.2km in hul eie werf, sommige die grote van ’n posseël, kafgedraf ten bate van klublid, Janine Zaaiman, wat ernstig siek in die hospitaal is.
Die reëls?
Elke lid, waarvan baie marathon-fiks is, moes vanaf 06:00 op Saterdagoggend in hulle klubklere hul verste afstand sedert die inperking aflê (lede draf sedert die inperktyd elke dag by hul huis) – plus ’n ekstra kilometer vir Janine. Eie waterpunte moes voor- sien word en afstande is met spesiale horlosies en selfoon-toepas-sings gedokumenteer.
Sewe van dié lede het selfs ’n halfmarathon, en selfs meer, voltooi.
Meyer, wat die klub vroeg in 2019 saam met haar man, Sakkie, op die been gebring het, moes nagenoeg 220 keer om haar huis draf om dié 22km baas te raak – die verste afstand van al die lede.
Susan, wat al sewe Comrades-marathonne en 11 Two Oceans-marathonne op haar kerfstok het, sê die uitdaging was baie moeilik. “Dit werk met ’n mens se kop, en die kort draaie maak seer. Mens kry nie jou ritme nie.”
“Dit is makliker op die pad saam met jou hardloopmaats. Dit was egter ’n troos en aansporing om te weet dat almal besig was om hul eie afstand te hardloop.
“My bure se kinders het baie gehelp om die rondtes vir my te tel.”
Ernst, wat 21.1km in ’n tyd van 02:59:00 voltooi het, beskryf sy uitdagende roete van 235 rondtes – ’n raps meer as elf rondtes per kilometer: 30m vanaf die straathek in ’n L-vorm verby die motorhuis (20m) en terug.
“Ek was baie moeg,” sê Ernst wat die afgelope 18 maande twee marathons en 11 halfmarathons voltooi het. “Maar as jy in ag neem dat ek meer as 700m hoogte gewen het – omtrent drie keer meer as in ’n gemiddelde halfmarathon – is dit sekerlik verstaanbaar.
“Dit bly maar ’n tweestryd tussen jou kop en jou liggaam. Jy is partykeer so moeg dat jy net wil ophou, maar dan oortuig jou kop jou dat jy moet aanhou. Maar vir enige iets wat die moeite werd is, moet jy hard werk.
“’n Ekstra aansporing was dat ons draf-vriendin, Janine Zaaiman ernstig siek is, en ons in solidariteit met haar ons bes wou doen.”
Volgens hom weerspieël lede se meelewing met Janine in die foto’s wat op die dag geneem is. Sommige lede het haar naam op hul arm geskryf, terwyl ander ’n spesiale naambord aan haar opgedra het.
“Running with Friends is ’n kombinasie van ’n hegte omgee-groep en ’n drafklub,” sê hy.
Inperking
Maar waar het die tuis-draf begin?
“Hoewel die inperking met groot teleurstelling gepaard gegaan het – van die klublede het na opkomende marathons en ultra-marathons uitgesien – laat ons klomp ons nie onderkry nie,” lag Ernst.
“Om gedurende die tyd fiks te bly, het Running with Friends besluit om verskeie uitdagings aan lede te stel, insluitende ’n marathon.
“In plaas daarvan om Jeffreysbaai se strate en strande aan te durf, doen ons dit binne die beperkinge van ons eie erwe en huise. Al is van dié erwe so klein soos ’n posseël.
“Daaglikse afstande afgelê, word met spesiale horlosies en selfoon-toepassings gedokumenteer – party lede se roetes is kunstig, andere lyk soos ’n kraaines.”
Op Sondag, April 5 het die 33 lede van die klub ’n totaal van 1 362km gedraf en 110km fietsgery. Elbe Strydom neem die voortou met 175.5km, gevolg deur Koot Swanepoel (93.5km), Johan Vosloo (93.3km) en Rentia Meyer (90.7km). Hannes Bisschoff, die oudste klublid op 76-jaar, het 29km in sy tuin kafgedraf.
Volgens Ernst plaas lede daag-liks hul vordering op die Running with Friends WhatsApp-groep. “Daar word gereeld terugvoering aan lede gegee – die wedywering tussen die dames en die mans om te sien wie draf die verste, is hoog.”
Running with Friends
Die doel van Running with Friends is om atlete vir lang afstande op die pad voor te berei.
Lede pak Woensdae douvoordag ’n 10km-roete in Jeffreysbaai aan, terwyl langer afstande van tot 30km oor naweke afgelê word.
Sakkie volg drawwers met sy voertuig en voorsien hulle van energiedrankies – en hou ’n oog oor hul veiligheid – terwyl Susan saamdraf en lede tot hoër hoogtes aanspoor. Dié afstande word gewoonlik deur ’n ontbyt gevolg.
“Van ons lede wat skaars 5km kon baasraak, hardloop nou marathons,” sê Ernst trots.
Vir meer inligting oor Running with Friends, kontak Susan Meyer by 083 307 1484. Besoek die Running with Friends se Facebook-blad.