IN die 85 jaar wat ’n boer van die Langkloof op sy plaas is, was hy Sondag vir die eerste keer met ’n drieling-kalwers verras.
Okkie Strydom (85) en sy vrou, Christa (71), het Sondag-oggend wakker geword toe die hemele reën oor hul plaas, Damserug, in Krakeelrivier uitgiet. Hul dankbare harte is oomblikke later selfs meer gevul toe hulle by die bees-kraal instap en daar drie pasgebore kalfies by ’n koei lê.
Die drie kalfies, ’n bulletjie en twee versies, is van ’n Ngunibul en ’n koei, wat tussen ’n Angus- en Jerseybees gekruis is, afkomstig.
“Vanoggend (Maandag) is al drie baie sterk en aan die gang. Twee is gevoer met ’n bottel. Die derde een het hom knuppeldik gesuip aan sy ma,” sê Christa.
“Vanoggend gaan daar ’n dankie uit aan die Here. Ons het so hard gebid vir reën en die drie se oorlewing deur die nag en hier is dit. Ons is dankbaar, baie dankbaar.”
Nóg ’n boer by Krakeelrivier in die Langkloof, Gawie le Roux, eienaar van die plaas Grootnek, het Maandag gesê hy het 32 mm se reën sedert Sondag gemeet.
“Dit is die eerste goeie reën wat ons in twee maande kry.”
In Augustus en September het Le Roux onderskeidelik 2 mm en 3 mm se reën by sy plaas gehad.