Droom-eiendom word riool-nagmerrie

MET die eerste oogopslag lyk die eiendom van Koot Burger, oorspronklik van Kuruman, na ’n idilliese paradys. Sy erf grens aan die groen belt van Noorsekloof, kompleet met koelte- bome en ’n stroompie water wat oor rivierklippies kabbel.


MET die eerste oogopslag lyk die eiendom van Koot Burger, oorspronklik van Kuruman, na ’n idilliese paradys. Sy erf grens aan die groen belt van Noorsekloof, kompleet met koelte- bome en ’n stroompie water wat oor rivierklippies kabbel.

Dit was Burger se droom om in Jeffreysbaai af te tree en ’n huis vir homself en sy vrou, Santie, te bou op hul pypsteelerf in Camphortreestraat, maar tot dusver kon dit nie gebeur nie.

In kontras met die pragtige natuurskoon wat die eiendom bied, is daar hoër op in dieselfde erf, ’n modderpappery wat niemand kan miskyk nie. Daar is duidelik ongewensde water wat vermoedelik vanaf die riooltenk van ’n buurman kom.

Volgens Kouga Munisipaliteit se Infrastruktuur en Ingenieurswese Portefeulje-bestuurder, Willem Gertenbach, is Jeffreysbaai se riooltenkstelsels met die bou van die eerste huise in die dorp geïmplementeer.

Die eerste rioolstelsel is eers in die laat 1980’s gebou. Alhoewel daar toe-komsplanne is vir die hele dorp om van hierdie tenksisteem afstand te doen, is baie eiendomme in Jeffreysbaai nie tans aan die rioolstelsel gekoppel nie en is dus afhanklik van septiese tenks om hul riool te verwyder.

Dit is egter die huiseienaar se verantwoordelikheid om te sorg dat die tenk gereeld leeggepomp word.

Wonings wat van hierdie stelsels afhanklik is, is geregtig daarop dat die munisipaliteit die tenk een maal per maand gratis leegmaak. Hulle moet egter betyds gebel word om dit te kom doen, omdat baie huise op die dorp slegs gedurende vakansietye bewoon word.

Wanneer die munisipaliteit in kennis gestel word van die nood rondom ’n septiese tenk word ’n voertuig ontplooi om die tenk leeg te pomp en die proses word maandeliks herhaal, of meermale, afhangende van die woning se individuele behoeftes.

Burger noem dat die rioolpappery in sy erf reeds twee jaar lank ’n pro-bleem is, en dat hy gevolglik nie op sy erf kan bou nie. Selfs die groentetuin wat hy aangelê het, het letterlik, geen vrugte afgewerp nie.

As ’n gesoute boer en natuurliefhebber, het hy alles probeer om sy erf te rehabiliteer, maar met die gedurige toevloei van rioolwater is dit onmoontlik. Dit is tóé dat hy besluit het sy laaste uitweg sal wees om sy saak aan die media te stel, in die hoop om ’n oplossing te kry.

Die buurman – wie se riooltenk vermoedelik die oorsaak van hierdie penarie is – het gesê hy het geen kommentaar nie en het met regstappe ge-dreig toe hy deur die Kouga Express gekontak is.

Burger het bygevoeg, “Ek het in ’n stadium self die munisipaliteit gebel om my buurman se tenk te kom pomp. Dit het toe baie beter gegaan, maar hy het dit stopgesit en hulle belet om sy tenk te kom pomp wanneer ek hulle bel. Ek het al afvoerslote gegrawe om die water weg te lei van my erf, maar sonder sukses. Ek het selfs op eie onkoste ’n muurtjie rondom sy tenk gebou om te verhoed dat reënwater onnodig in sy tenk inloop en dit volmaak. Dit het ook nie gehelp nie. Ek is raadop.”

Buiten die ongerief en ooglopende gesondheidsrisiko’s wat rou riool vir die Burgers inhou, loop die water ook in die stroompie in, wat afloop in die see. Dit besoedel dus die water wat deur die kloof loop, wat deur diere gedrink word.

Volgens Burger het hy al menige male die gesondheidsinspekteur genader en die situasie aangemeld. Dié was glo al vyf keer daar om die pro-bleem te dokumenteer.

By navraag het Kouga Express die volgende terugvoer gekry van Daniel Benson, Kouga Gemeenskapsdienste Portefeulje-raadslid.

“Na inspeksie van die eiendom van [buurman] op 4 Augustus deur Kouga Munisipaliteit is bevind dat die eiendom se septiese tenk nie voldoen aan voorgeskrewe regulasies nie. ’n Formele geskrewe versoek om nakoming van die voorskrifte sal op 10 Augustus aan [buurman] uitgereik word deur die omgewingsgesondheidsraad oor die gesondheidsrisiko wat deur die oorlopende septiese tenk geskep word. Die kwessies rakende die afwykings van die goedgekeurde bouplanne sal na die Boubeheerafdeling (Building control section) verwys word om met die eienaar van die eiendom op te neem.”

You need to be Logged In to leave a comment.