Ná 42 jaar in die onderwys, roep Anthea van Rooyen (60) met ’n swaar hart dié beroep – of eerder roeping – vaarwel. FOto:MONIQUE BASSON


SY is nog net so passievol oor die onderwys soos die dag toe sy as groentjie-onderwyseres begin skoolhou het – meer as vier dekades te-rug.

Haar suksesresep: harde werk en dissipline. En baie liefde en geduld.

Maar nou, ná 42 jaar in die onderwys, roep Anthea van Rooyen (60) met ’n swaar hart dié beroep – of eerder roeping – vaarwel.

Dit is tyd vir agteroorsit en rus.

Ná sy haar onderwysdiploma aan die eertydse Dower Opleidingskollege in Uitenhage verwerf het, het Van Rooyen vir ’n jaar by die Milton Primêre Skool in die Gamtoosvallei skoolgehou.

Dít is ook hier waar sy haar man, Percival van Rooyen, ontmoet het. Min wetende dat hulle binnekort by dieselfde skool sou werk en dat hy in 2016, 34 jaar na hul troudag in 1982, die skoolhoof sou wees.

’n Baie streng een – geen spesiale vergunnings vir sy vrou nie.

Van Rooyen, wat tot en met haar aftrede vroeër vandeesmaand ’n graad 1-onderwyse-res by die Hankey Primêre Skool was, het in 1978 by die skool se gedugte leerkrag aange-sluit.

Híér het nagenoeg 1 700 leerders onder haar liefdevolle leiding leer lees, skryf, klank en somme maak.

Van Rooyen glimlag breed: “Ek het nooit nodig gehad om te skuif nie. Skoolhou is absoluut wat ek wou doen, dit is my liefde en passie.”

Sy sê niks is vir haar lekkerder as om haar kennis met ander te deel nie. “Dit is in my gene. Die kind se gesig as hy iets regkry – dít is waarvoor ek werk.

“Ek het gevoel ek kan in die kinders se lewe ’n verskil maak, en hulle ophef en motiveer om nog groot hoogtes en hul doelwitte te bereik.

“Baie van die leerders is vandag suksesvolle individue: dokters, onderwysers, polisie-lede en geoktrooieerde rekenmeesters.”

Daar was wel dae wat sy haar handsak wou vat en die klaskamerdeur agter haar toetrek.

“Dit breek jou moed as jy jou bes probeer dat ’n leerder ’n sekere som of begrip moet verstaan, net om die volgende dag te besef dat hy dit glad nie verstaan nie,” sê Van Rooyen.

“Maar dan begin jy weer van voor af.”

Wat gaan sy die meeste mis?

“Die kinders se stralende gesigte, liefdevol-le drukkies en opregte komplimente,” sê sy. “Wanneer hulle sê: ‘Juffrou lyk mooi vandag’ of ‘Juffrou het mooi skoene aan’, dan weet jy dit kom uit hulle hart uit.

“Ek gaan ook die skool en my wonderlike kollegas mis.”

Van Rooyen sê sy sien baie uit na haar af-trede.

“Daar is baie dinge wat ek nog wil doen, maar eers gaan ek net rus en meer tyd saam met my familie – drie kinders en drie kleinkinders – spandeer. Tot ek iets vind wat ek wil doen.

“Ek sien ook daarna uit om binnekort die land saam met man te verken.”

You need to be Logged In to leave a comment.