Afrikaners is plesierig en dit kan jy maar glo! Die afgelope Erfenisdag het ek dit beleef tydens die Grootvoël Boeremusiekfees op Oudtshoorn.
Wat meer is tipies ons kultuur as boeremusiek, braaivleis en Bokke (wat wen bygesê)!
Boeremusiekliefhebbers van oraloor het saamgetrek om die verskillende orkeste te geniet en om ook sommer lekker te skoffel. My gunsteling is die konsertina-speler Frikkie MacDonald wat saam met die Voorslag Boereorkes gespeel het.
My liefde vir boeremusiek, wat gereeld in ons huis gespeel het, kom van my pa Rudolph af.
By die Grootvoël Boeremusiekfees was oom Naas Jonker ’n man wat die oog gevang het. Hy is nie ’n musikant nie, maar woon dié fees jaarliks by. Op 83 kan dié eertydse vragkontroleur by die spoorweë nie stilsit as die boerepompie, kitaar en banjo gekielie word nie.
Sy deurleefde knieë hou uit en hou aan! Sy dik bril sit geduldig op die middel van sy neus. Sy donkerblou langbroek het ’n netjies gestrykte naat. Sy blokkieshemp is kraakvars oor die geboë rug. Daaroor het hy ’n ligte blou, dun, veeldoelige baadjie aangehad. Al tien jaar lank is hy ’n wewenaar.
Vandat die deure Vrydag om 17:00 geopen het tot die laaste note om 22:00 het Oom Naas geskoffel. Seties is sy gunsteling – twee trappies links … dan twee trappies regs. Met oudtydse grasie vra hy enige vrou vir ’n dansie. Hy sit byna nooit uit nie.
“Ja, die ou bene kramp maar. Maar solank daar musiek is, sal ek dans,” sê hy met ’n sagte stem. Ek voel sy tenger skouers onder my hand as ons dans. Ons gesels oor die musiek, instrumente en talentvolle spelers.
“Ek is nie skaam om te sê ek is ’n Christen nie. Ek hoop regtig net daar is eendag boeremusiek in die hemel,” wens hy met erns, en vryf aan sy grys baardjie.
By ’n vorige fees het Oom Naas die tweede dag ander skoene aangehad as die dag tevore. Eintlik sandale met sokkies. Hy het met sy bedeesde stem verduidelik dat die skoene hom seergemaak het. Maar dié keer het hy sy gemaklikste en reeds uitgetrapte swart skoene aan.
Boeremusiek se aansteeklike ritmes is goed vir die gemoed. Hier kan jy nie dikbek sit nie. Dié wat nie dans nie, se voete en vingers hou tyd, en die skouers wikkel.
Daar is die gebruik dat die vroue voor die verhoog staan in ’n ry, en die mans neem dan die vrou eerste in die ry en dans een rondte met haar. Dan word sy aan die stert van die ry gelaat, en die man neem weer die voorste vrou vir ’n dans. So kry almal lekker danskans tydens die ‘busstop’.
Daar was selfs twee paartjies wat uitgevat was in deftige uitrustings en spesiale passies uitgehaal het.
Dit is bevrydend om langarm te dans en jou oor te gee aan die gedraai en swaai op maat van die donkielong en kitare.
Oom Naas het seker, soos altyd, Saterdagaand na die boeremusiekprogram op die draadloos geluister.
Ek hoop iemand sal met my ook dans as ek 83 is.