Eksotiese ‘drakie’ ‘n liplekker lekkerny

Dit is nie die gewone vrugteboom in jou agtertuin nie. Dié ‘drakie’, of pitaya, is een van die wêreld se nuutste superkosse – klein swart pitjies en al.Monique Bassonhet op ’n plaas in Patensie gaan kuier waar dié draakvrugte verbou word en besoekers


DIE oggendskemering sprei sy sagte glans stadig oor die berge.

In die koelte van die vroegoggend – grys wolke hou die belofte van broodnodige reën in – vat ons die grondpad na die Dragon Fruit Farm in Patensie. Onderdeur lowergroen bome en oor vlak rivierstroompies.

Om nog ’n draai verskyn snaakse pienk vrugte met tongagtige blaarlelle op rye en rye pale.

’n Nuwe tipe turskvy?

Nee. Draakvrugte – ’n kaktusagtige plant met kleurryke vrugte (van wit tot donkerpienk en pers binne-in) wat uiters geskik is vir tropiese en sub-tropiese gebiede.

Te veel reën en koue is nie goed vir dié supervrug – die rede vir ons besoek aan die plaas – nie.

Jarelange inwoners en boere, Stuart en Jackye Riddle, het meer as ’n dekade terug hul nartjiebome vir draakvrugte verruil.

Sonder om presies te weet waarvoor hulle hulself inlaat.

Maar die egpaar het nog nooit vir ’n uitdaging teruggestaan nie.

In ’n poging om mense meer oor die unieke rank-kaktus te leer, het Riddle onlangs die hekke na haar Patensie-plaas –die Dragon Fruit Farm – wawyd oopgemaak sodat inwoners en besoekers nou die vrug kan pluk, weeg en daarvoor betaal.

Dit was egter nie ’n maklike pad tot hier nie.

Skoolgeld betaal

Riddle moes baie soek voordat sy die regte kultivars vir Suid-Afrika – meer spesifiek Patensie – kon opspoor.

En verbeter.

Hoewel plaaslike ondersteuning en inligting skraps was, het hulp van reg-oor die wêreld aanlyn ingestroom: Amerika, Israel en Australië. Dit was juis met ’n internetsoektog na plantmateriaal dat ’n kenner van Australië vir haar ’n paar blare van sewe kulti-vars gestuur het.

Tóé begin die harde werk.

Draakvrugblomme het kruisbestuiwing nodig – alles met die hand vir die eerste drie jaar. Ten spyte van die duisende insekte wat om jou koplig saamdrom – die blomme is slegs in die aand oop.

In die Gamtoosvallei begin die plante al in Oktober blom en hou aan tot in April. As dit te koud is, verander die blom in ’n knopperige blaar en nie in ’n vrug nie.

Dit is lesse soos dié wat sy aan die begin van haar proefnemings met draakvrugte geleer het.

“Ek het gou gesien hoe ’n klein verandering in verbouingspraktyke ’n groot impak op produksie kan hê,” sê Riddle. “Dinge soos hoe diep ’n mens plant, hoeveel water jy gee en die verskillende insekte en groot aantal slakke, maak ’n verskil.”

’n Dekade later spog sy met 946 pale en 22 kultivars – waarvan agt haar eie is.

Sy glimlag breed: “Ek het my eie name vir hulle. Byvoorbeeld Alex, vernoem na een van ons lojale en langwerkende werkers Alex Zava – na my mening een van die beste variëteite wat jy in die wêreld kan kry.”

Ander rasse sluit in: Americans Call, the American Beauty, Cosmic Charley, Physical Graffiti, Dark Star, Queen of the Night en Sugar Dragon.

Volgens haar, hoe donkerder die vleis, hoe soeter die vrug. Dus, hoe meer suiker. Die ligter variëteit is geneig om effens bitter te wees.

Elke paal en kultivar het ’n volle- dige databais: sy weet presies hoeveel blomme elke plant dra en wanneer om die eerste en laaste vrug te verwag.

Dragon Fruit Farm is ’n organiese boerdery. Geen gifstowwe word gebruik nie, want die blomme moet snags deur insekte bestuif word.

“Ons moes al miljoene slakke een-vir-een met die hand verwyder – tot 5kg slakke per ry,” lag Riddle.

Tyd vir pluk

Dan is dit tyd vir pluk.

Die pluk verg egter ’n spesiale teg-niek: waar die draakvrug aan die stam vassit, draai die vrug saggies tot hy afbreek. Moet nie trek nie – die vel gaan afkom en die vrug gou-gou sal bederf.

Selfs ervare plukkers sukkel om dit keer-na-keer reg te kry.

Die makliker opsie (beslis die een wat ek sal aanbeveel) is om ’n kniptang te gebruik. Hiermee maak jy ’n v-vorming sny in die blaar aan weers-kante van die vrug.

Nog ’n wenk: jy kan of die uitge-droogte blom aan die voorkant van die vrug weggooi, of gebruik om tee te maak – blykbaar baie goed vir die gesondheid.

Riddle beveel egter ’n skeut vanieljegeursel vir die smaak aan.

Sy lag: “Gesondheidsfanatici het al met sakke vol droë blomme her weg-geloop.”

Toekomsplanne sluit die maak van hulle eie tee in.

Pienk en geel sakke in die hand, pak ons die rye en rye plante aan. Gewapen met ’n paar vrugte, waarvan meeste se vel in die slag gebly het, is dit tyd vir proe. Die smaak van dié vrugte is baie uniek, al herinner dit in voorkoms aan ’n kiwivrug vanweë die klein swart ­pitjies. Die donker vrug is lekker soet vanweë die hoë suikerinhoud, terwyl die wit vrug effens aan die bitter kant is.

Waarvoor kan die draakvrug gebruik word: slaai, roomys, gin, nage-reg, koeldrank en nog vele meer.

Nóg planne

Benewens die draakvrugheuning en -konfyt, beoog Riddle om binnekort seep van die plant te maak.

Kleinboere

Riddle meen die draakvrug is die perfekte gewas vir boere wat met min kapitaal op klein stukkies grond wil begin boer. Die vestigingskoste is die plantmateriaal en die opleistelsel – wat nie duur hoef te wees nie.

Sy meen die groeipotensiaal vir die draakvrugmark is feitlik onbeperk.

“Hoewel daar tot dusver ongeveer 10 ander draakvrugboere in Suid-Afrika is, word die vrug nog nie plaaslik op groot skaal verbou nie.”

Benewens bestuiwing, will Riddle boere help om draakvrugte te groei.

Sy wil verder op die toerisme-aspek fokus.

Riddle lewer tans tans draakvrugte aan Woolworths, Pick n Pay, Checkers, Spar en Food Lover’s Market.

  • Hoë veselinhoud
  • Ryk bron van vitamien B, C, kalsium en fosfor
  • Verbeter sig
  • Beheer hipertensie
  • Help beheer bloedglukosevlakke by tipe 2-suikersiekte
  • Verbeter velkwale
  • Ryk aan lycopeen
  • Help om jig en artritis te voorkom
  • Verlaag cholesterol
  • Lae kalorieë
  • Hoe dit werk:Kies, weeg en betaal – R40 p/kg.
  • Bedryfsure:Op Saterdae en Sondae van 08:00 tot 16:00 (in- dien daar genoeg vrugte is).
  • Hoe kom ek daar?Volg Fred Ferreiraweg deur Patensie. Net na die wit brug, draai regs by die Dra-gon Fruit Farm-bord (’n klein wit bord aan die linkderkant van die pad). Na 1.7km van die wit brug, draai regs op die grondpad.Volg die pad vir 5km.
  • Ry stadig:Ry stadig op die grondpad. Die stof veroorsaak siektes op die sitrusbome langs die pad.
  • Skakel:042 283 0892 or 067 776 8190 (slegs whatsapp).

You need to be Logged In to leave a comment.