TWEE mans van Jeffreysbaai is vasgetrek nadat hulle dieselfde fiets binne 10 minute in twee afsonderlike voorvalle gesteel het.

Volgens sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het die polisie Maandagmiddag op ’n inbraakklag by ’n huis in Kwaggastraat, Jeffreysbaai, gereageer.

Die huiseienaar het ’n volledige beskrywing van die vermeende inbreker gegee wat glo ’n fiets uit die motorhuis gesteel het.

“Die polisie het die verdagte sowat 3 km van die misdaadtoneel af opgemerk,” sê Nkohli.

Die man het die fiets neergegooi en weggehardloop toe hy die polisie sien.

Nkohli sê die polisie het hom agter-nagesit tot by ’n informele nedersetting en hom in hegtenis geneem.

Die polisielede was skaars 10 minute later terug by die plek waar die man die fiets neergegooi het en dit was skoonveld.

Die fiets se spoor het die polisie na ’n plakkershut gelei waar dit teruggevind en ’n man aangekeer is.

Die twee mans, wat onderskeidelik 22 en 26 jaar oud is, sal van onderskeidelik die besit van gesteelde eiendom asook huisbraak en diefstal aangekla word, het Nkohli gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.