Fietser van J’baai debuteer met digbundel

DENIS Schreiber (44) het nooit daarvan gedroom om ’n digbundel uit te reik nie – al was hy as ’n skaam hoërskoolleerder reeds lief vir skryf.


DENIS Schreiber (44) het nooit daarvan gedroom om ’n digbundel uit te reik nie – al was hy as ’n skaam hoërskoolleerder reeds lief vir skryf.

Veral gedigte . . .

Sy ontvlugting van die dikwels moeilike werklikheid. Van die baie rondtrek saam met sy posmeester-pa en werkende ma. Vreemde skole en nuwe maats.

Toe volg 11 harde en ontnugterende jare by die polisie, asook ’n aantal jare as sekuriteitsbeampte.

Deesdae is hy ’n swaarvragmotorbestuurder in Nebraska, Amerika vir nege maande van die jaar. Die oorblywende drie bly hy in Jeffreysbaai.

Maar sy groot liefde en passie bly skryf – diep gedigte uit sy hart uit wat sy menswees op papier verewig.

Debuutbundel

Schreiber, ’n lid van die Silent Soldiers SA motorfietsklub, het pas met sy digbundel, Kronkelpad, debuteer. Vyf van die 50 gedigte in die bundel verskyn eersdaags in Stemme uit die Suiderland 14 – ’n digbundel van die Genootskap vir die Handhawing vir Afrikaans (GHA), wat hulle vir die bevordering van Afrikaanse gedigte beywer.

Die gedigte is Die Boer Alleen, Sondaars Gebed, Woorde, Verdwaal en Klipkerk.

’n Verdere drie van sy gedigte – Herbergier, Scattered Pieces en Stiltes Tussen Woorde – getoonset deur Wouter van de Venter – word binnekort vrygestel.

Schreiber meen dat elke oomblik en emosie wat hy tot dusver op sy lewens-pad ervaar het, ’n onlosmaaklike rol in sy gedigte speel.

Hy vee oor sy stoppelbaard, sy blou oë nougetrek: “Tussen my grootword-jare, hartsmense wat ek verloor het, en persoonlike oorloë wat ek moes veg, het alles bygedra tot waar ek vandag is. Daar was skerp draaie, grondpaaie, slaggate en donkerstrate op my lewenspad. Partykeer het die lewe net gebeur, soms teen my eie sin, en ander kere was dit as gevolg van keuses.

“Ek het elkeen van daardie oomblikke ervaar, beleef: ek het gelag en by tye ook gehuil. Ander kere was ek trots, maar uiteindelik het ek elke oomblik en emosie op papier neergepen.

“Ek sit met ’n versameling van woorde wat oor die jare bymekaar gemaak is en nou in my bundel verpak word. Dit is ’n verwoording van verliese en teleurstelling, maar ook van liefde, geluk en goeie tye – ’n weer- spieëling van wie ek is.”

Dié kronkelpad word in sy eenvou-dige, dog ryke verse ontgin.

Eenvoudig, oop, maar nie simplisties nie.

Die gedagte met die bundel is gewis nie om ryk of beroemd te word nie.

Vir Schrieber, wat oorspronklik net een boek vir homself wou laat druk het, gaan dit oor die fisieke voorwerp.

Hy glimlag skaam: “Dit is mooi gedruk en hier is dit, ek kan daaraan vat.”

Poësie is ook vir hom ’n manier om te kommunikeer: “Jy wil dit sê en aan mense oordra en elke keer is dit iets anders. En as van die gedigte met die leser praat, dan weet ek dat ek iets reg gedoen het.”

Van idee tot woorde

Hy staar na die pad by die koffiewinkel waar ons gesels: “’n Handvol van die gedigte was met ’n gelukskoot dadelik reg – daar kom so ’n flikkering en die woorde vind vanself hul pad tot op die papier . . .

“Maar dan is daar ander verse waaraan jy baie lank werk, wat jy moet oorskryf en soms skrap.

“Dikwels gaan dit deur verskillende vorms en dit vat lank om reg te kom. Dit verskil ook van gedig tot ge-dig. Daar is nie ’n volle stel reëls nie.”

Daarom hou hy nie van ’n voorskriftelike beskrywing van hoe ’n mens ’n gedig moet skryf nie.

En van paarrym, omarmde rym en koeplets wat hy op skool geleer het, onthou hy weinig.

Waar skryf hy?

“Baie van die gedigte gebeur onder die dowwe kajuitlig van my vragmotor terwyl ek wag dat die vrag op- of afgelaai word. Sommiges wanneer ek alleen in my kamer sit en alles om my stil raak – wanneer ek alleen is, skryf ek.”

Tot vyf op ’n aand.

“Ek hoop dat ek in die nabye toe-koms kan sê dat die verkeerde afdraaipaaie my op die nuwe pad van digkuns gebring het,” sê Schreiber wat reeds aan ’n aantal nuwe gedigte werk.

Meer inligting

Kronkelpad is teen R150 beskikbaar. Vir meer inligting, skakel Schreiber se bestuurder, Lynette du Toit, by 076 167 4791.

You need to be Logged In to leave a comment.