Hier is die tawwe 2018 Conqueror (103km) wenners saam met Hannes Horn (links) organiseerder van die Cockscomb Classic. Ian Moore was tweede (06:33:48) en Grant Daly was die wenner (06:01:17) met Henry Vermaak derde (06:58:16).Foto:VERSKAF


VIER bergfietswedrenne, drie veldwedlope en drie tweekamp-uitdagings – alles om fondse vir die droogtegeteisterde boere in Steytlerville in te samel.

Die Cockscomb Classic – aangebied deur Buckaroo Avontuursport in samewerking met Bucklands-plaaseienaar Hannes Horn – vind vanaf 5 tot 7 April aan die voet van die Hanekamberg plaas.

Volgens Horn bevat die Cockscomb Classic al die eienskappe van ’n onvergeetlike avontuur op jou fiets of in jou hardloopskoene deur Karoo-veld en bergpaaie.

Roetes is goed gemerk en die verskillende moeilikheidsgrade maak dit moontlik vir avontuurlustiges tot minder fikse fietsryers en hardlopers om deel te neem.

Daar kan self op die plaas gekamp word, want daar is warm storte en spoeltoilette.

Ander aktiwiteite sluit in goeie musiek, goeie kos en goeie samesyn vir ’n goeie doel.

Aktrise Dorette Potgieter en haar dogter, Lia Luna Li – wat beide aan die Cockscomb Classic gaan deelneem – sal pryse aan deelnemers oorhandig.

Dié bekende aktrise het verder verseker dat DigiTV die avonture regstreeks op die internet sal uitsaai.

“Maak nie saak waaraan jy gaan deelneem nie, dit is alles vir ’n goeie doel. Elke deelnemer is ’n wenner, want om deel te neem, gaan jy ’n verskil help maak,” sê Horn.

Fondse van dié Cockscomb Classic is ten bate van die Steytlerville Landbouvereniging se droogtehulpfonds sowel as vir die Droogtehulp met Burre Burger – ’n projek wat nie net voer nie, maar ook hoop bring vir boere.

Verskillende roetes

Berffietsroetes: 6 April

  • 07:00 Cockscomb Conqueror (103km), tawwe uitdaging,

R500 per deelnemer.

  • 08:00 Cockadoodle (78km), minder taai met ’n mooi Karoo-roete.

R350 per persoon.

  • 08:10 Broiler Bash (46km), vinnige roete vol uitdagings en mooi landskappe.

R250 per deelnemer.

  • 08:20 Hennebaloo (27km), maklike trap vir die nie-haastiges wat die natuur wil geniet.

R150 per persoon.

  • 08:30 Chicken Run vir die kleinspan (3km).

R20 per persoon.

Veldwedlope: 6 April

Al drie veldwedlope begin om 07:50 op Saterdag, 6 April: Kudu (5.5km) – R50 per deelnemer; Kolgans (12km) – R75 per persoon; en Ratel (21km) – R100 per persoon.

Stappers is welkom.

Tweekamp: 6 April

Hennebaloo en Kudu (R200); Broiler Bash en Kolgans (R300); en Cockadoodle en Ratel (R400).

Meer inligting

Die plaas, Bucklands, is sowat 117km (90 minute) buite Uitenhage met die afdraai (links) vanaf die R75 by Kleinpoort net voor Wolwefontein geleë. Volg die grondpad vir ongeveer 29.5km.

Om op die plaas te kamp vir die naweek, beloop R100 per persoon. Daar is ook ander huisvesting op naburige plase en op Steytlerville.

Vir meer inligting, besoek www.bucklands.org.za of Buckaroo Event op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.