TRAP en uithou . . . al in die rondte.
As die staat van inperking jou nie toelaat om deur die ongerepte veld van die Baviaanskloof te trap nie – 230km oor berg en dal – dan maak jy `n plan en doen dit óm ’n koshuis.
Nie vir glorie of ’n medalje nie, maar vir ’n broodnodige kospakkie of tien.
Tiaan Muller (28), `n onderwyser by die Laerskool Stulting in Humansdorp, gaan op Maandag, 27 April die speke laat sing wanneer hy die Trans-Baviaans Backyard-uitdaging vir liefda- digheid aanpak.
Dié fondsinsamelingprojek is ’n nie-amptelike voorloop tot die 17de Trans-Baviaans – die taaiste en langste ononderbroke bergfiets-marathon ter wêreld – wat op 15 en 22 Augustus, vanjaar plaasvind.
Waarom doen hy dit: om geld vir kos vir die NG Kerk, Humansdorp se kospakkie-projek in te samel.
Muller is bewus van die goeie werk wat die gemeente doen – nie net vir lidmate nie, maar ook vir behoeftige inwoners. En daar is net nooit genoeg geld nie. Veral nou tydens die inperkingstyd waar honderde inwoners nie kos het nie.
Daarom wil hy die tyd tydens inperking gebruik om geld in te samel sodat mense in nood gehelp kan word.
Hy lag: “Ek is gesond, het `n fiets en ’n oop spasie – hoe kan ek nié 230km vir liefdadigheid wil ry nie.
“In die tyd moet ons as ’n gemeenskap saamstaan om me- kaar te help.”
Uitdaging
Muller, wat in 2018 begin fiets-ry het en later vanjaar sy eerste Trans-Baviaans aanpak, gaan dié uitdaging om 05:00 op sy bergfiets takel – 230 keer om die seunskoshuis waar hy bly. Een ronde is presies 1km.
Hy oefen elke dag. Sy oefenafstande het van 30km na 50km verleng, en toe na 100km.
Hoewel sonder die bekende klippe, moddergate, duiselingswekkende afgronde, beenbreek-opdraendes, vlermuise en naguile, is die uitdaging nie sonder struikelblokke nie.
“Die moeilikste is kophou. ’n Mens se kop speel met jou, veral omdat jy so naby die huis is,” sê Muller wat beoog om die uitdaging binne 16 ure kaf te trap.
“Die versoeking om gou te rus of om met jou vrou te praat, is altyd daar.”
Daar gaan wel waterpunte wees – beman deur sy vrou.
“Ek dink sy moet elke keer ander klere aantrek sodat dit voel asof ek by ’n nuwe waterpunt kom,” skerts hy.
Sy enigste ander toeskouers is sy twee katte.
Wat motiveer hom: God se genade. “Hy is goed vir my. Die minste wat ek kan doen is om vir ander mense om te gee.”
Belangstellendes kan op 27 April Muller se vordering op sy Facebook-blad volg.
Nie heeltemal alleen
Muller is egter nie die enigste fiets-ryer wat aan die unieke uitdaging deelneem nie.
“Fietsryers van regoor die Kouga gaan, en kan, deelneem,” sê hy. “Elke deelnemer kies die organisasie wat hulle wil ondersteun. Elkeen wat op daardie dag `n fiets optel, gaan help om die gemeenskap op te bou.
“En dit deur hul liefde vir fietsry.”
Een so ’n groep is Team Turtles: Hettie en Rheinard Meyer, en Carol en Lawrence Bernard.
Elkeen in die span gaan minstens 60km op ’n binneshuise fiets ry ten bate van die NG Kerk Humansdorp-Oos se kospakkie-projek.
Help so
Finansiële skenkings kan gemaak word aan Absa Bank, rekeningnommer: 1940580028, verwysing: Transfood (NG Kerk Humansdorp) of 1940580036 (Baviaans Turtles).
Inwoners kan ook kos skenk.
Elke donasie maak ’n verskil, hoe klein dit ook al is. Dit sal gesamentlik ’n groot verskil maak in die lewe van inwoners wat dit nodig het.